Artikel vandag op Media 24.

Gay-besluit gestuit
Deur Jean Oosthuizen 14 November 2015 23:55

Die NG Kerk se geskiedkundige besluit om gay lidmate toe te laat om in dié kerk te trou, is nou weer uitgestel.

Dr. Gustav Claassen, algemene sekretaris, het aan Rapport bevestig daar is appèl aangeteken en die hele historiese besluit is in die weegskaal.

Dit is sover bekend die eerste keer dat ’n besluit van die algemene sinode op appèl geneem word, en dit sal hoog op die agenda wees wanneer die moderamen môre vergader. Die algemene sinode wat die appèl moet oorweeg se volgende vergadering is egter eers vir oor twee jaar belê.

Nóg ’n topkerk­leier wat hom nie in die openbaar mag uitspreek nie, sê hulle is uiters gefrustreerd omdat die appèl nou die kerk ­terugplaas in die posisie wat dit was voor die besluit oor gays.

Predikante van die NG Kerk sal intussen ook nie verbintenisse tussen gay paartjies kan bevestig nie.

Ná die aanvanklike sinodebesluit dat gay lidmate nie meer selibaat hoef te wees nie en dat gay leraars beroep mag word, slaan sommige kerkleiers wat die sinodebesluit gedryf het nou bollemakiesie.

Dr. Johan Ernst, die vorige aktuarius van die algemene sinode, het die mosie in die sinode gesekondeer. As aktuarius was hy tot onlangs deel van die kerk se top-leierskap en die persoon wat die kerkreg moes vertolk.

Maar Ernst het nou klaarblyklik van plan verander en ’n skerp bewoorde brief aan sy kollegas gerig waarin hy uitvaar oor wat hy noem “die onregmatige beïnvloeding” wat daar in die sinode ten gunste van die besluit was.

Hy sê in die brief mense het in die sinode meermale hul eie saak op propagandistiese wyse gedryf met betoning van weinig liefde (en selfs haat) vir diegene wat dit gewaag het om enigsins van hulle te verskil. “Die hemele behoed ons!” skryf hy in sy brief. “Op ’n stadium is ek amper soos Agrippa van ouds oorgehaal om ja te sê vir selfdegeslagverhoudings. Maar daar het dinge gebeur en daar word dinge gesê wat met my huiwerende lees van die Bybel al hoe meer op die teendeel wys.”

Hy beweer die vergadering is op verskeie punte onregmatig beïnvloed en sê hy voel skaam om deel van so ‘n vergadering en die besluit te wees.

Die brief is gerig aan die kerk se Algemene Steunspan ­Predikantesake.

Gay mense wat die sinode se debat bygewoon het asook die dosente aan die kerk se kurato­rium loop veral kwaai deur in die brief.

By navraag het Ernst gesê hy beskou die brief as privaat en sal stappe doen indien Rapportdie inhoud daarvan bekend maak.

“Ek het niemand toestemming gegee om dit aan die koerant te gee nie.”

Ds. Nelis van Rensburg, die NG Kerk se moderator, sê hy is bewus van Ernst se ongemak oor die besluit. Hy wou nie daarop kommentaar lewer nie.

Die kerk se moderamen vergader in die komende week, en die gay-besluit en hoe om die appèlproses te hanteer sal hoog op die agenda wees. Die moderamen bestaan uit ongeveer 50 ­lede met verteenwoordigers uit elke sinode.

Van Rensburg sê hy hoop die vergadering sal ‘n geleentheid wees waar daar in ‘n “gees van liefde” oor die saak gepraat word met wye deelname en begrip vir mekaar se standpunte.

Ernst en die onbekende persone wat ’n amptelike ­appèlproses van stapel gestuur het, is egter nie alleen in hul opstand teen die besluit nie.
Verskeie gemeentes rebelleer teen die sinode se besluit (sien grafika). Sommige predikante sê die algemene sinode het die kerkverband flenters geskeur.

Volgens Claassen het die kerk nog nie ‘n volledige lys van kerkrade wat amptelik beswaar gemaak het teen die sinode se besluit nie.

“Dit kom nog so drupsgewys in. Baie van die kerkrade gee kennis aan hul streeksinodes en nie noodwendig aan die algemene sinode nie.”

Claassen sê hulle behoort ná die moderamenvergadering ’n idee te hê hoe dit regtig in sinodes gaan.