Netwerk 24 publiseer gister hierdie berig: 

http://www.netwerk24.com/Nuus/Algemeen/verwarring-in-ng-kerk-oor-appel-20151209

Hierstaanek vermoed dat daar gemeneregtelik nie so iets soos ‘n appèl teen ‘n appèl kan wees nie.  Anders stuur ek sommer vandag nog ‘n appèl teen die appèl teen die appèl in!

Verwarring in NG Kerk oor appèl

Deur Pieter Steyn 10 Desember 2015 00:00

Onsekerheid heers in die NG Kerk omdat ’n proponent en dominee aangedui het hulle gaan appelleer teen die kerk se beslissing om die eie gay-besluit wat in Oktober geneem is, uit te stel.

In ’n brief aan dr. Gustav Claassen, algemene sekretaris van die NG Kerk, en ds. Helgard Janse van Rensburg, voorsitter van die algemene steunspan: regte (ASR), gee proponent Hennie Pienaar van ­George en ds. Hein Kotzé van die Uitsig-gemeente in Bloemfontein kennis dat hulle van plan is om teen die ASR se besluit te appelleer.

Nadat vier appèlle teen die algemene sinode se gay­besluit ontvang is, het die ASR by die moderamen van die algemene sinode aanbeveel dat die besluit, ingevolge die gemene reg, eers uitgestel word hangende die appèl.

Pienaar en Kotzé appelleer teen dié besluit en aanbeveling van die ASR.

Onsekerheid bestaan nou oor hoe dié appèl gehanteer gaan word en watter gevolge dit inhou.

Na verneem word, kan die ASR nie die appèl teen hom hanteer nie omdat hy nie “regter” oor sy eie besluite kan wees nie.

Ingevolge die gemene reg word ’n besluit opgeskort hangende die uitslag van die appèl.

Kerkregkenners wat nie hul naam genoem wil hê nie, sê hulle weet nie of die jongste appèl beteken die uitgestelde besluit is opgeskort nie.

“Sou dit beteken die algemene sinode se oorspronklike besluit geld nou?”

Ds. Gert Duursema, lid van die ASR, sê die liggaam sal beslis regsadvies inwin.

Hy het toegegee dat die kwessie in die hof kan draai, maar benadruk dat die kerk altyd eers ’n kerklike weg soek om sake te besleg.

Pienaar, self gay, en Kotzé, wie se dogter gay is, sê die rede waarom hulle teen die ASR se besluit appelleer, is omdat daar in die eerste plek nie rede was om teen die oorspronklike besluit te appelleer nie.

“Die algemene sinode se besluit bied kerkrade ruimte om self te besluit hoe hulle gay lidmate wil hanteer.

“Met die appèl wat die besluit uitgestel het, word kerkrade wat gays wel ten volle wil verwelkom, uitgesluit.

“Die aanvanklike besluit het gemeentes toegelaat om gays ten volle te verwelkom as hulle wou.

“As daar ontevredenheid was, kon hulle eerder die besluit op hersiening geplaas het sodat daar op die volgende algemene sinode daaroor gedebatteer kon word. Dan sou gemeentes wat gays wel aanvaar, kon voortgaan om die besluit uit te voer,” het Kotzé gesê.

Claassen het Woensdag gesê hy net nog nie die appèl ontvang nie.

Prof. Johan van der Merwe, aktuarius van die algemene sinodale moderamen, wou nie kommentaar lewer nie.