Op die Spesiale Ringsitting van die Ring van Heidelberg gehou op 11 November 2015 het die Ring soos volg besluit:

Die Ring van Heidelberg het eenparig besluit om beswaar aan te teken teen die besluit van die Algemene Sinode op 9 Oktober 2015 oor “selfdegeslagverhoudings”. Hierdie beswaar word gestuur aan die SDK van die sinode Hoëveld asook aan die Moderamen van die Algemene Sinode.

Ons beleef dat die besluit van die Algemene Sinode goeie verhoudings tussen lidmate in die gemeentes beskadig het. In gemeentes was daar altyd ’n openheid en aanvaarding van mense met verskillende seksuele oriëntasie binne bepaalde grense maar dat daar nou skielik beskuldigings van liefdeloosheid en veroordeling na vore tree wat die eenheid en vrede in gemeentes vertroebel.

Mag hierdie kruispad waar die NG Kerk hom bevind ’n geleentheid wees dat ons opnuut weer nadink oor ons verhouding met God, verstaan van die Woord en die plek en funksie van die NG Kerk se kerklike strukture.
Verder het die Ring die volgende besluit:

1] Die Ring van Heidelberg distansieer hom van die besluit rakende Selfdegeslagverhoudings” wat deur die Algemene Sinode geneem is tydens die sitting van die Algemene Sinode op 9 Oktober 2015. As Ring is ons oortuig dat “selfdegeslagverhoudings” uitdruklik deur die Woord van God as sonde gesien word. Die Kerk kan nie ’n ruimte skep om enige sonde, van watter aard ook al te beoefen terwyl die Woord van God duidelik dit verbied nie.

2] Die Ring van Heidelberg is van mening dat die besluit van die Algemene Sinode die weg baan dat die Kerk homself die reg toeëien dit wat die Woord van God geopenbaar het as sonde, te mag ophef en dan sy eie standpunt te hê, wat selfs in stryd met die Woord van God mag wees. Sou die kerk hom hieraan skuldig maak moet dit as dwaling gesien word en word die kerk opgeroep tot inkeer van sy verkeerde wee.

3] As Ring is ons van mening dat die besluit oor “Selfdegeslagverhoudings” die simptoom is van twee gevare in die Kerk naamlik:

a. Die vraagstuk oor “Skrifgesag”. Die manier hoe ons die Woord van God hanteer en interpreteer. Die Ring is bekommerd dat die Woord van God deur sulke besluite as sekondêr gesien word en die mens se emosies en ervaring primêr word in die proses van besluitneming.

b. Die morele verval van ons samelewing wat insluit seksuele losbandigheid. Die kerk het geen keuse nie as om hierdie morele verval daadwerklik aan te spreek.

4] Die Ring het geen bedoeling om een sonde bo die ander te stel nie. Ons ervaar almal daagliks die stryd teen sonde en is geroep om die stryd teen sonde voort te sit maar nooit mag ons die stryd teen enige vorm van sonde laat vaar deur ons verstaan van die Skrif so te verander en sonde te regverdig nie. Die besluit van die Algemene Sinode kan ’n ruimte skep vir mense om in gemak te volhard in hulle sonde en steeds in die amp bly. Terwyl die Woord vir ons baie duidelike riglyne gee oor die lewenswandel van ampsdraers.

5] Die Algemene Sinode se besluit skep verwarring, want die besluit herbevestig dat die huwelik slegs ’n lewenslange verbintenis tussen een man en een vrou is. Tog gee die Algemene Sinode erkenning aan die status van burgerlike verbintenisse tussen persone van dieselfde geslag. Hierdie besluit skep ruimte vir die beoefening van die seksuele buite die grens van die huwelik.

6] Die Ring van Heidelberg wil graag die kerklike weg volg om hierdie saak te hanteer. Derhalwe word die besluit van die Ring van Heidelberg aan die SDK van die Hoëveld Sinode gestuur, asook aan die Algemene Sinode. ’n Versoek word aan die SDK van die Hoëveld Sinode gerig om die moontlikheid te ondersoek van ’n spesiale streek sinodesitting waar ons as streek ’n geleentheid kan kry om die besluit van die Algemene Sinode kan bespreek en met voorstelle kan kom. Ons vra derhalwe dat daar ’n moratorium op die besluit van die Algemene Sinode geplaas sal word.

7] Ten slotte bevestig ons steeds dat die gemeentes van die Ring van Heidelberg se deure staan met die liefde en deernis van Christus oop vir alle mense. As kerk wil ons die oop arms van Jesus wees wat vir alle mense genade, vergifnis en heling bied. Liefde vir God en liefde vir mekaar bly ten alle tye ons opdrag. Tog het die kerk die taak om mense wat in sonde volhard te vermaan met die nodige kerklike opsig en tug. Derhalwe kan persone wat in enige sonde volhard en gemeentes van bewus is nie in ‘n leiersposisie (ampte van die Kerk) dien nie.

8] Die Ring van Heidelberg herbevestig dat die Woord van God die ware en volkome leer van die verlossing is, en daarom die norm is in die leer van die NG Kerk.

9] Die Ring van Heidelberg versoek die Algemene Sinode en die Hoëveld streeksinode om indringend te kyk na die afvaardiging na die Algemene Sinode om ’n groter verteenwoordiging daar te stel.
VOORSTELLER: Ds. DROV Fourie
SEKONDANT: Oudl. VF Eriksen