Media 24 berig vanoggend dat die appél teen die dwaalleer besluit van die Algemene Sinode van 2015 oor selfdegeslag verbintenisse eers oor twee jaar deur die volgende sinode aangespreek sal word.

Die pro-gays sê hulle is onoorwonne.

Maar hierdie is belangrik: Dié wat selfdegeslag verbintenisse ondersteun plaas hulleself buite die reddende Christelike geloof want

  1. Hulle ontken die Goddelike inspirasie van die Bybel deurdat hulle tekste na willekeur afmaak as “kulturele uitsprake” wat geen “moreel-etiese grondslag” het nie. Deur dit te doen beweer hulle dat God nie met die mens kan of wil kommunikeer nie. Daarmee ontken hulle die wese van God as almagtige Vader (As God nie KAN kommunikeer nie is Hy nie almagtig nie. As God nie WIL kommunikeer nie is Hy nie Vader nie). Hierdie is dieselfde postmodernisme wat aanleiding gee tot die ontkenning van die maagdelike geboorte, Jesus se wonderwerke en sy liggaamlike opstanding.
  2. Hulle ontken die sondeval, omdat hulle beweer dat God ons  seksualiteit net so gemaak het soos wat dit nou is, en dat  enige en alle vorms van seksualiteit daarom God se beeld weerspieël. Die waarheid is dat ALLE mense se seksualiteit deur die sondeval gebreek is, homoseksualiteit is maar net een manier waarop die sondeval in ons lewens manifesteer. Omdat hulle die sondeval ontken maak hulle Jesus as Verlosser oorbodig, en reduseer hulle die evangelie tot iets wat dit nie is nie.

Die basislyn is dit: Dit is nie genoeg om ‘n politieke oorwinning oor hierdie dwaalleraars te kry nie.  Ons as wedergebore Christene kan hulle nie toelaat om verder in ons kerk hulle dwaalleer te verkondig nie.

Ons of hulle moet uit. En aangesien hulle ons belydenisskrifte se duidelike leerstelling van skrif verwerp en hulle dus kontrakbreuk pleeg, moet hulle uit.

Hier staan ek.

NG Kerk: Gays sal moet wag
Deur Pieter Steyn 18 November 2015 00:22

Foto:
Die NG Kerk hou by die besluit van sy algemene sinode om gay lidmate op elke vlak te verwelkom, maar die uitvoering daarvan is vir twee jaar uitgestel.

Dit beteken gay proponente mag voorlopig nie in die amp van leraar georden word nie, tensy hulle selibaat is.

Gay paartjies se burgerlike verbintenis word voorlopig ook nie erken nie. So ’n verbintenis mag ook nie deur ’n leraar voltrek word nie.

Na verneem word het die moderamen van die algemene sinode, wat in Edenvale vergader, Dinsdag ná ’n “oop gesprek” oor die gees waarin en manier waarop die algemene sinode die besluit geneem het, besluit dit staan.

Die praktiese uitvoering van die besluit word egter gestaak hangende die uitslag van die appèl.

Dit sal op die vroegste in 2017 wees wanneer die volgende algemene sinode besluit oor die appèlle wat ontvang is.

Intussen is dr. Johann (Tokkie) Ernst, aanvanklik een van die sekondante van die voorstel wat tot die kerk se gay-besluit gelei het, se naam Dinsdag verwyder as ’n sekondant.

Sy naam is in die voorlopige notule van die sinode aangeteken as sekondant, maar is verwyder voordat die notule goedgekeur is.
Proponent Hennie Pienaar, een van die leiers in die stryd om gewone regte en voorregte vir gays in die NG Kerk, sê hy is teleurgesteld oor die appèl, maar is steeds baie positief oor die besluit.

“Dit is teleurstellend dat die kerk so ’n besluit, wat hom uiteindelik weer relevant in die samelewing maak, tydelik kon stuit.”

Pienaar sê hulle is egter nie negatief nie en hef aan lê voor.

“Dit motiveer ons om die volgende twee jaar bitter hard te werk, op grondvlak, sodat lidmate ons siele en harte sien, sodat hul vooropgestelde idees oor waarom hulle ons wil uitsluit, sal val. Sodat hulle besef dis ’n onreg. Dis eers wanneer jy met gay mense te doen het, hul stories hoor, hul harte en siele sien, dat jy besef hulle is net sulke mense soos ek.”

Pienaar sê hy sien uit na die volgende algemene sinode in 2017.

“Ons hou reeds partytjie, al is die besluit gevries. Minstens is daar iets om te vries. Voor die sinode was daar niks. Dis soos om uit te sien na ’n vleisbraai, later. Jy het die gevriesde tjops, al kan jy nog nie dadelik gaan braai nie. Ons sien uit na ’n tamaai braai en álmal is genooi!”