Met die spesiale Algemene Sinode van die NG Kerk om die draai, wil ek graag ‘n paar opmerkings maak.

Wanneer ons in gesprek is met mense wie se wêreldbeeld van ons s’n verskil is dit belangrik om nie die vals premisse waarmee hulle die gesprek omraam te aanvaar nie.  Hierdie vals premisse vind uiting in die misleidende gonswoorde wat tydens die gesprek gebruik word. Ek noem graag ‘n paar voorbeelde.

1) Menswaardigheid. 
Hulle beweer dat ons mense se menswaardigheid aantas wanneer ons hulle op hulle sonde wys. Die waarheid is dat ons menswaardigheid slegs geleë is in die Imago Dei, die beeld van God, in ons. Hierdie Godsbeeld in ons , en dus ons menswaardigheid, is gebreek met die sondeval. En elke keer as ons sonde doen breek ons ons eie menswaardigheid verder.

Die Bybel is ondubbelsinnig: Homoseks is sonde. Daarom vernietig die beoefening van homoseks ‘n mens se menswaardigheid – presies net soos enige ander sonde dit doen.

As ons werklik omgee vir mense se menswaardigheid sal ons hulle smeek om tot bekering te kom en hulle sonde af te lê.

2) Dit gaan oor liefde.
Hulle beweer dat dit liefdeloos is om mense op hulle sonde te wys..

Die Bybel is baie duidelik. Ware liefde waarsku en vermaan die sondaar sodat hy tot bekering kan kom en leef.

Esegiël 3:18“Wanneer Ek vir ‘n goddelose sê hy gaan sterwe, en jy waarsku hom nie, jy praat nie en jy waarsku nie die goddelose teen sy bose optrede om hom so in die lewe te hou nie, dan sal hy deur sy sonde sterwe, maar Ek sal van jou rekenskap eis vir sy dood. 19As jy hom waarsku en hy bekeer hom nie van sy goddeloosheid nie, van sy bose optrede nie, sal hy deur sy sonde sterf, maar jy sal jou eie lewe behou. 20“En wanneer iemand wat tot dusver reg gelewe het, die regte lewe laat vaar en onreg doen, en Ek bring hom tot ‘n val, sal hy sterwe. Omdat jy hom nie gewaarsku het nie, sal hy deur sy sonde sterf en sal die goeie dinge wat hy gedoen het, nie onthou word nie, maar Ek sal van jou rekenskap eis vir sy dood. 21As jy hom waarsku om nie te sondig nie, en hy sondig nie, sal hy bly lewe omdat hy hom laat waarsku het, en jy sal jou eie lewe behou.”

Om vir iemand wat in sonde leef nie te waarsku nie is nie liefde nie, dit is boos.

Maar wat van die liefde tussen twee homoseksuele volwassenes? Hulle gebruik tog die hashtag #liefdeisliefde om homoseks goed te praat!

1 Johannes 4:7 Geliefdes, ons moet mekaar liefhê, want liefde kom van God, en elkeen wat liefhet, is ‘n kind van God en ken God. 8 Wie nie liefhet nie, het geen kennis van God nie, want God is liefde. 9Hiérin is God se liefde vir ons geopenbaar: sy enigste Seun het Hy na die wêreld toe gestuur sodat ons deur Hom die lewe kan hê. 10Werklike liefde is dít: nie die liefde wat ons vir God het nie, maar die liefde wat Hy aan ons bewys het deur sy Seun te stuur as versoening vir ons sondes. 11Geliefdes, as dit is hoe God sy liefde aan ons bewys het, behoort ons mekaar ook lief te hê. 12Niemand het God nog ooit gesien nie, maar as ons mekaar liefhet, bly God in ons en het sy liefde in ons sy doel volkome bereik.

Ware, Gods-vererende liefde is slegs moontlik in gehoorsaamheid aan God. Die Bybel is baie duidelik: Alhoewel die wêreld die skyn-van-liefde en selfs ‘n soort-van-huweliksliefde kan hê is ware liefde (soos God dit bedoel het) buite om die genade en gebod van Christus onmoontlik. Statistiek toon dat daar amper nie so iets soos ‘n ware monogame, en dus lewenslank getroue, homeseksuele verhouding bestaan nie. Dit is die rede.

3) Dit gaan oor ruimte maak vir ander, inklusiwiteit en diversiteit.
Hulle sê dat mense wat teen gay huwelikke is nie ruimte wil maak vir ander nie.

Die Bybel is weereens baie duidelik hieroor: Alle homoseksuele mense is welkom in die Kerk – op voorwaarde dat hulle, soos enige ander sondaars, hulle sonde bely, hulle self werp op die genade van Christus en ‘n pad van heiligmaking begin loop.

1 Korinthiërs 6:10  Moenie dwaal nie! Geen hoereerders of afgodedienaars of egbrekers of wellustelinge of sodomiete of diewe of gierigaards of dronkaards of kwaadsprekers of rowers sal die koninkryk van God beërwe nie. 11 En dit was sommige van julle; maar julle het jul laat afwas, maar julle is geheilig, maar julle is geregverdig in die Naam van die Here Jesus en deur die Gees van onse God.

Die ander kant van die munt is: Mense wat NIE hulle sonde bely nie maar daarin volhard mag nie in die gemeente kom nie!

1 Johannes 1:9 Elkeen wat ’n oortreder is en nie bly in die leer van Christus nie, hy het God nie. Wie in die leer van Christus bly, hý het die Vader sowel as die Seun. 10 As iemand na julle kom en hierdie leer nie bring nie, ontvang hom nie in die huis nie en groet hom nie. 11Want die een wat hom groet, het gemeenskap aan sy bose werke.

Dit is baie duidelik dat daar geen samewerking kan wees met mense wat ‘n ander evangelie bring nie!

4) Gay mense is so gebore. 
Hulle beweer gay mense is so gebore, en beroep hulle op die wetenskap.

Die waarheid is, daar is geen wetenskaplike bewys dat mense gay gebore word nie. Al wat die wetenskap wel wys is dat die saak uiters kompleks is. Om mens op die “wetenskap” te beroep in die argument is eerstens intellektueel oneerlik, omdat die wetenskap gewoonlik verkeerd en buite konteks aangehaal word. Hier is wat die wetenskap regtig sê:

  • The understanding of sexual orientation as an innate, biologically fixed property of human beings—the idea that people are “born that way”—is not supported by scientific evidence. 
  • While there is evidence that biological factors such as genes and hormones are associated with sexual behaviors and attractions, there are no compelling causal biological explanations for human sexual orientation. While minor differences in the brain structures and brain activity between homosexual and heterosexual individuals have been identified by researchers, such neurobiological findings do not demonstrate whether these differences are innate or are the result of environmental and psychological factors

Sexuality and Gender.  Findings from the Biological, Psychological, and Social Sciences
Lawrence S. Mayer, M.B., M.S., Ph.D. and Paul R. McHugh, M.D.

Lees asb die volledige wenteskaplike  oorsigs- joernaalartikel hier:  http://www.thenewatlantis.com/docLib/20160819_TNA50SexualityandGender.pdf

Ek daag alle afgevaardiges na die Spesiale Algemene Sinode wat glo die wetenskap ondersteun hulle dwaalleer om die artikel by dié skakel te weerlê!

Tweedens mag teologiese dogma nie op sogenaamde wetenskap geskoei word nie. Enige predikant wat die wetenskap gelyk aan die Woord van God plaas in die formulering van sy teologie verbreek sy legitimasie verklaring en kan nie ‘n predikant in die NG Kerk wees nie.

Die Nederlandse Geloofsbelydenis, en dus elke NG Predikant se kontrak met sy gemeente, verklaar:

7. DIE VOLKOMENHEID VAN DIE HEILIGE SKRIF
Ons glo dat hierdie Heilige Skrif die wil van God volkome bevat en dat alles wat die mens vir sy saligheid moet glo, daarin voldoende geleer word. Aangesien die hele wyse waarop God deur ons gedien moet word, daarin breedvoerig beskrywe word, mag ook niemand, selfs nie die apostels nie, anders leer as wat ons reeds deur die Heilige Skrif geleer word nie – ja, al was daar ook ‘n engel uit die hemel, soos die apostel Paulus sê (Gal 1:8). En aangesien dit verbode is om iets by die Woord van God by te voeg of daarvan weg te laat (Deut 12:32), blyk dit duidelik dat die leer daarvan heeltemal volmaak en in alle opsigte volkome is. Ons mag ook geen geskrifte van mense, hoe heilig die mense ook al was, met die Goddelike Skrif gelykstel nie; ook mag ons nie die gewoonte of die groot getalle of oudheid of opvolging van tye of van persone of kerkvergaderings, verordeninge of besluite met dié waarheid van God gelykstel nie, want die waarheid is bo alles. Alle mense is immers uit hulleself leuenaars en nietiger as die nietigheid self (Ps 62:10). Ons verwerp daarom met ons hele hart alles wat nie met hierdie onfeilbare reël ooreenkom nie, soos die apostels ons leer as hulle sê: “…maar stel die geeste op die proef of hulle uit God is” (1 Joh 4:1) en: “As iemand na julle kom en hierdie leer nie bring nie, ontvang hom nie in die huis nie…” (2 Joh:10).

“Geskrifte van mense” sluit die wetenskap in. Dit gaan hier om ‘n verwerping van die Gereformeerde epistemologie (waarheidsdleer) wat stel dat die Bybel ons enigste onfeilbare en normatiewe bron van kennis is, en dat alle ander kennis, ook die uit die algemene openbaring, hieraan ondergeskik is.

Ons kan eenvoudig nie sin uit die wetenskap maak sonder ‘n Bybelse wêreldbeeld nie.

5) God het gay mense so gemaak, daarom is homoseksualiteit goed.
Hulle beweer dat omdat gay mense so gebore is, en God hulle dus so gemaak het, homoseksualiteit goed is.

Hierdie stelling van die pro-gay groep is ‘n verwerping van die sondeval en dus verderflike dwaalleer. ‘n NG Predikant wat hierdie standpunt handhaaf verbreek sy legitimasie verklaring en kan nie ‘n predikant in die NG Kerk wees nie.  Die NGB verklaar:

14. DIE SKEPPING VAN DIE MENS, DIE SONDEVAL EN DIE GEVOLGE DAARVAN
Ons glo dat God die mens uit die stof van die aarde geskep het; Hy het hom volgens sy beeld en gelykenis gemaak en gevorm, dit wil sê goed, regverdig en heilig, sodat hy met sy wil in alles met die wil van God ooreenstem. Maar toe hy in aansien was, het hy dit nie verstaan nie en sy uitnemendheid nie besef nie. Hy het homself egter, deur na die woord van die duiwel te luister, willens en wetens aan die sonde en daarmee aan die dood en die vervloeking onderwerp. Hy het immers die gebod van die lewe wat hy ontvang het, oortree en homself deur die sonde losgeskeur van God, wat sy ware lewe was; so het hy sy hele natuur verderf en daarmee die liggaamlike en geestelike dood verdien. Hy het deurdat hy in al sy doen en late goddeloos, verkeerd en verdorwe geword het, al sy voortreflike gawes wat hy van God ontvang het, verloor en hy het niks anders daarvan oorgehou nie as slegs klein oorblyfsels, wat egter genoegsaam is om hom van alle verontskuldiging te ontneem. Al die lig wat ons het, het immers in duisternis verander, soos die Skrif ons leer: En die lig skyn in die duisternis en die duisternis het dit nie oorweldig nie (Joh 1:5), waar die heilige Johannes die mense duisternis noem. Daarom verwerp ons alles wat in stryd hiermee oor die vrye wil van die mens geleer word, aangesien die mens niks anders as ‘n slaaf van die sonde is nie en: “‘n Mens kan niks aanneem as dit hom nie uit die hemel gegee is nie” (Joh 3:27).

Ek het in die verlede baie duidelik aangetoon dat die liberale teoloë in die NG Kerk die sondeval verwerp. Bewyse is hier:
https://hierstaanek.wordpress.com/wp-content/uploads/2013/01/dwaalleer-in-die-ng-kerk.pdf

Die Bybel en ons belydenis is baie duidelik: Ons is almal so gebore. Ons almal, gay en straight,  se seksualiteit is deur die sondeval gebreek. Geen mens vandag kan beweer dat sy seksualiteit is soos God dit aanvanklik bedoel het nie. Daar is in God se oë geen verskil tussen gay seksuele sonde en straight seksuele sonde nie. Beide lei tot die hel.

Daar is net een oplossing vir ons almal se sondeval-gebreekde seksualiteit: God se reddende en heiligmakende genade in Jesus Christus. Die oplossing vir een tipe gebroke seksualiteit (bv gay seksualiteit) is nie om dit te verander in ‘n ander tipe gebroke seksualiteit (straight seksualiteit) nie, maar God se reddende en heiligmakende genade.

6) Gay mense kan nie verander nie. 
Eerstens: Die wetenskap toon dat tot 80% van alle adolessente mans met selfdegeslag aangetrokkenheid moontlik later heteroseksueel word.

Longitudinal studies of adolescents suggest that sexual orientation may be quite fluid over the life course for some people, with one study estimating that as many as 80% of male adolescents who report same-sex attractions no longer do so as adults (although the extent to which this figure reflects actual changes in same-sex attractions and not just artifacts of the survey process has been contested by some researchers).

Sexuality and Gender.  Findings from the Biological, Psychological, and Social Sciences
Lawrence S. Mayer, M.B., M.S., Ph.D. and Paul R. McHugh, M.D

Tweedens: Daar is baie mense wat voorheen homoseksueel was wat nie meer is nie. André Bekker is een. Lees sy Ope Brief aan die Moderamen hier. https://hierstaanek.com/2016/10/05/andre-bekker-eks-gay-se-ope-brief-and-die-moderamen/

Nog een is Rosaria Butterfield. Lees ‘n artikel van haar hier:  https://www.thegospelcoalition.org/article/love-your-neighbor-enough-to-speak-truth

Laastens, God sê dat Hy gay mense kan verander! (As jy nie die Bybel glo nie, waarom noem jy jouself dan ‘n Christen?)

1 Korinthiërs 6:10  Moenie dwaal nie! Geen hoereerders of afgodedienaars of egbrekers of wellustelinge of sodomiete of diewe of gierigaards of dronkaards of kwaadsprekers of rowers sal die koninkryk van God beërwe nie. 11 En dit was sommige van julle; maar julle het jul laat afwas, maar julle is geheilig, maar julle is geregverdig in die Naam van die Here Jesus en deur die Gees van onse God.

7) Dit is onregverdig om van gay mense te verwag om selibaat te leef. 
Die waarheid is: Om en by 2 persent van die algemene populasie is homoseksueel.

Dit beteken, daar is baie meer straight Christene wat teen hulle wil ongetroud is en wat nooit sal kan trou nie, van wie God verwag om selibaat te leef, as wat daar gay Christene is. In enige normale gemeente is daar dikwels tientalle enkellopende volwassenes wat teen hulle wil ongetroud is en wat nooit sal kan trou nie, en daar is miskien een of twee mense met selfdegeslagaangetrokkenheid van wie God verwag om selibaat te leef.

Ek sou sê dit is onregverdig teenoor straight mense wat teen hulle wil ongetroud is en wat nooit sal kan trou nie as mens sou sê gay mense mag maar hulle sondige seksdrange uitleef maar ongetroude straight mense mag nie…

8) Maar dit is my identiteit!
Die verlore wêreld vind sy identiteit is enigiets anders as God.

Om jou identiteit in jou gebroke sondeval-seksualiteit te vind, of jy nou gay of straight is, is om ‘n afgod van jou sondige natuur (of wat ook al) te maak. Ons, wie deur Christus gered is, se identiteit is in Christus!

Galasiërs 3:26 Deur hierdie geloof in Christus Jesus is julle nou almal kinders van God, 27want julle almal wat deur die doop met Christus verenig is, het nou deel van Christus geword. 28Dit maak nie saak of iemand Jood of Griek, slaaf of vry, man of vrou is nie: in Christus Jesus is julle almal één. 29En as julle aan Christus behoort, is julle ook nakomelinge van Abraham en erfgename kragtens die belofte van God.

Efesiërs2: 11 Hou dan in gedagte wat julle vroeër was. Van geboorte was julle heidene, en julle is “onbesnedenes” genoem deur dié wat hulleself “die besnedenes” noem, al is die besnydenis net mensewerk aan die liggaam. 12In dié tyd was julle sonder Christus, uitgesluit uit die burgerskap van Israel, ver van God af sonder deel aan die verbonde en die beloftes wat daarmee saamhang, sonder hoop en sonder God in die wêreld. 13Maar nou is julle een met Christus Jesus. Julle wat vroeër ver van God gelewe het, het nou naby gekom deur die bloed van Christus.

Indien jy jou identiteit in enigiets anders as Christus vind is dit waarskynlik omdat jy ongered is!

9) Maar ek is ‘n gay Christen, en ek weet ek doen nie sonde as ek homoseks beoefen nie…
God sê dit is sonde. Daar is geen debat oor nodig nie. As jy eerlik is met jouself, en jy lees die “7 knuppeltekste waarmee gay mense geslaan word” onbevooroordeeld, sal weet jy dit is so. Jy weet jy lieg vir jou self as jy sê die Bybel sê nie dat gay seks sonde is nie. Jy weet jy lieg vir die hele wêreld om jou as jy sê die Bybel sê nie dat gay seks sonde is nie. Die vals Bybeluitleg van die pro gay huwelik faksie is reeds deur baie ander mense uitgewys.

Johannes 16:7 Maar Ek sê julle die waarheid: Dit is vir julle voordelig dat Ek weggaan; want as Ek nie weggaan nie, sal die Trooster nie na julle kom nie; maar as Ek weggaan, sal Ek Hom na julle stuur; 8 en as Hy kom, sal Hy die wêreld oortuig van sonde en van geregtigheid en van oordeel:

Daar is net een manier waarop ons kan weet ons doen sonde: As die Heilige Gees ons oortuig. Dus as jy geen skuldgevoel het nie, as jou gewete jou nie aankla oor jou seksuele sonde nie, is dit omdat jy nie die Heilige Gees het nie.

Romeine 1:24 Daarom het God hulle ook in die begeerlikhede van hulle harte oorgegee aan onreinheid, om hulle liggame onder mekaar te onteer —
25hulle wat die waarheid van God verruil het vir die leuen en die skepsel vereer en gedien het bo die Skepper wat geprys moet word tot in ewigheid. Amen.

As jou seksuele sonde vir jou goed en reg voel en lyk, is dit omdat God jou aan jou sondige begeertes oorgegee het.  Dit is onteenseglike bewys dat jy verlore gaan. Dit beteken jy is op pad hel toe.

Kom tot bekering! Die hel is vir altyd!

10) Skulpvis! Klere van verskillende vesels! Hoede in die kerk! Slawerny!!!
Enige persoon wat homself ‘n Gereformeerde teoloog noem en nie die antwoorde op hierdie misleidedende en vals voorstellings van die Bybeltekste ken nie behoort sy mond te hou en sy kop in skaamte laat sak.

Ek dink nie dit is nodig om dit hier te antwoord nie.

‘n Opmerking oor Bybelse seksualiteit. 

God het vir ons ‘n belangrike metafoor gegee om Christus se verhouding met die Kerk te verduidelik: Die huwelik tussen een man en een vrou. Ons seksualiteit gaan dus oor baie meer as net kameraadskap, liefde, plesier en voortplanting. Dit gaan oor wie ons is in verhouding met ons ons Skepper en Verlosser.

Om die Bybel se beeld van ons menslike seksualiteit te verwerp is dus in wese ‘n verwerping van God se metafoor vir die Evangelie.

Efesiërs 5:22 Vrouens, wees aan julle mans onderdanig, net soos julle aan die Here onderdanig is. 23Die man is die hoof van die vrou, soos Christus die hoof van die kerk is. Christus is ook die Verlosser van die liggaam, sy kerk. 24Soos die kerk aan Christus onderdanig is, moet die vrouens in alles aan hulle mans onderdanig wees.
25Mans, julle moet julle vrouens liefhê soos Christus die kerk liefgehad en sy lewe daarvoor afgelê het. 26Dit het Hy gedoen om die kerk aan God te wy, nadat Hy dit met die water en die woord gereinig het, 27sodat Hy die kerk in volle heerlikheid by Hom kan neem, sonder vlek of rimpel of iets dergeliks, heilig en onberispelik. 28Die mans behoort hulle vrouens so lief te hê soos hulle eie liggame. Wie sy vrou liefhet, het homself lief, 29want niemand het nog ooit sy eie liggaam gehaat nie. Inteendeel, hy voed en versorg dit, soos Christus met sy kerk doen 30omdat dit sy liggaam is, waarvan ons lede is. 
31Daar staan in die Skrif: “Daarom sal ‘n man sy vader en moeder verlaat en saam met sy vrou lewe, en hulle twee sal een wees.” 32Hierin lê daar ‘n diep geheimenis opgesluit, en ek pas dit toe op Christus en die kerk. 33Maar dit is ook op julle van toepassing. Elkeen moet sy vrou so lief hê soos hy homself liefhet, en ‘n vrou moet aan haar man eerbied betoon.

Openbaring 19:6 “Prys die Here!  
Die Here ons God, die Almagtige, heers nou as koning. 
7Laat ons bly wees en juig 
en aan Hom die eer gee, want die bruilof van die Lam het aangebreek, 
en sy bruid het haar daarvoor gereed gemaak. 
8God het haar dit vergun om fyn, helder blink klere aan te trek.”

Openbaringe21: 2 En ek het die heilige stad, die nuwe Jerusalem, van God af uit die hemel uit sien afkom. Die stad was gereed soos ‘n bruid wat vir haar man versier is…

Jesaja 54:5 Hy wat jou gemaak het, is jou man, sy Naam is die Here die Almagtige. Die Heilige van Israel is jou Verlosser; Hy word die God van die hele wêreld genoem. 6Jy is ‘n verstote en bitter bedroefde vrou, maar die Here roep jou terug, want hoe kan ‘n man sy eie vrou vergeet? sê jou God. 7Net ‘n oomblik het Ek jou verstoot, in my groot liefde vat Ek jou terug. 8In ‘n opwelling van toorn wou Ek ‘n kort tydjie niks met jou te doen hê nie, maar Ek ontferm My oor jou met ‘n liefde wat nooit vergaan nie, sê die Here, jou Verlosser.

2 Korinthiërs 11:2 Ek waak oor julle met ‘n ywer wat van God kom, want julle is soos ‘n jongmeisie wat ek aan een man toegesê het as sy bruid en wat ek vlekkeloos na hom toe wil bring. Die man is Christus.

Jesaja 62:5Soos ‘n jong man met ‘n meisie trou, so sal jou volk jou syne maak en vir jou sorg. Soos ‘n bruidegom bly is oor sy bruid, so sal jou God oor jou bly wees.

Daar is nog baie sulke tekste in die Bybel. Om God se standaard vir menslike seksualiteit (een man en een vrou, tot die dood hulle skei) te verwerp is om God se metafoor vir die verhouding tussen Christus en sy bruid te verwerp.

Pro-gay huwelik teologie ruk die hart van die evangelie uit.

In Sy liefde

Wynand Louw