Jesaja 44:7 Wie soos Ek is, laat hom dit sê,
laat hom sy saak stel en dit aan My voorlê;
laat hom ‘n verklaring gee van wat gebeur het
vandat Ek my volk lank gelede gemaak het
en ook van wat sal gebeur;
laat hy vertel van die dinge wat kom.

In Jesaja 44 daag God ander gode uit: Wie soos God is laat hom dit bewys deur die toekoms reg te voorspel. Dit is ‘n toets vir die ware God.

God se eer is op die spel,  en Hy deel dit met niemand anders nie.

God het nog altyd die toekoms deur profete voorspel. Uit Jesaja 44 is dit duidelik dat daar veel meer op die spel is as net die mens se kennis van die toekoms. Dit gaan oor God se eer. Dit gaan oor die bewys dat God wel God is.

Is dit dan verbasend dat God absoluut 100% akkuraatheid eis van profete wat vir Hom praat? Jy sien, as ‘n “profeet” vir God praat, en hy is nie reg nie, is dit nie die profeet se eer nie, maar God se eer wat op die spel is.

Deuteronomium 18:20 ‘n Profeet wat hom dit aanmatig om in my Naam iets te sê wat Ek hom nie beveel het nie, moet sterf. Dit geld ook van ‘n profeet wat in die naam van ander gode praat.’ 21Wanneer jy jou afvra: Hoe sal ek die woorde kan uitken wat die Here nie met die profeet gepraat het nie? 22moet jy weet: as ‘n profeet iets in die Naam van die Here aankondig en dit kom nie uit nie en dit gebeur nie so nie, dan het die Here nie met die profeet gepraat nie. Dan het die profeet hom dit aangematig en hoef jy jou nie aan hom te steur nie.”

‘n Profeet wat sê dat hy vir God praat terwyl God hom dit nie beveel het nie moet sterf. En die toets is, as hy nie 100% akkuraat is nie beteken dit hy praat nie vir God nie.

Moderne “profete” erken prontuit dat hulle nie 100% akkuraat is nie. Maar hulle besef nie dat as hulle iets sê wat nie uitkom nie, is dit nie hulle eer wat in die modder vertrap word nie. Dit is God se eer. 

As jy dink jy is ‘n profeet en jy praat vir God, wees versigtig. Dink twee keer voor jy sê “So spreek die Here.” Jy spreek dalk God se vloek oor jouself uit.

God laat sy eer nie vertrap nie.

Mag God ons kerk red van die plaag van “profete” wat sê “So Spreek die Here” sonder om die Bybel aan te haal.