Hier is NG Gemeente Albertyn se besluit:

Selfdegeslagverhoudings

Die kerkraad van Albertyn gemeente verwerp die sinode se besluit oor selfdegeslagverhoudings. Dit is duidelik uit die Sinodebesluit dat die gesag van die Skrif in gedrang is. Dit is vir ons jammer dat die sogenaamde “gay-kwessie” die sweer laat oopbars het. Ons besef immers dat elke keer wanneer oor hierdie kwessie gepraat word, daar mense is wat direk daardeur geraak word. Tog kan ons nie stilbly nie.

1. In die lig van God se Woord glo ons dat die beoefening van homoseksualiteit ’n sonde is en daarom teen die wil van God is (Lev. 18:22; 20:13; Rom. 1:24-28; 1 Kor. 6:9-10; 1 Tim. 1:9-10).
2. Ons glo dat die Skrif duidelik daaroor is dat alle seksuele verhoudinge buite die huwelik teen die wil van God is (vgl. bv. 1 Kor. 7:36).
3. Ons erken dat gelowiges, totdat die Here hulle kom haal, teen sonde sal stry, daarom aanvaar ons elkeen wat in Jesus glo en bereid is om teen sy/haar sonde te stry, met ope arms as lidmate van die gemeente (1 Tim. 6:11; 2 Tim. 2:22; Rom. 15:7).
4. Ons glo dat elkeen wat in Jesus Christus glo met die krag van die Heilige Gees oorwinnend oor sy/haar sonde kan stry (Rom. 6:1-6; 1 Kor. 6:11; 10:13).
5. Ons bely vanuit die Skrif dat ’n huwelik slegs die verbintenis tussen een man en een vrou is (Gen. 2:24; Ef. 5:21-33).
6. Ons glo verder dat die Skrif op geen manier toestemming gee vir ’n burgerlike verbintenis tussen twee mense van dieselfde geslag nie, ongeag of daardie verbintenis gekenmerk word deur liefde en trou.
7. Ons spreek ons diepe kommer uit oor die manier waarop die Skrif hanteer word. Ons sien in die AS se besluit oor selfdegeslagverhoudings ’n duidelike miskenning van die gesag van die Skrif.
8. Ons is diep bekommerd oor die verwarring wat daar veral by lidmate oor hierdie aangeleentheid bestaan, veral by lidmate en gelowiges wat worstel met hulle seksuele oriëntasie.

Die Kerkraad van Albertyn gemeente sal, nadat die Noordelike Sinode reageer het op die AS se besluit oor selfdegeslagverhoudings, besluit oor moontlike inskakeling by ’n ander streeksinode van die NG Kerk en oor die betaal van eweredige bydraes.