Hierdie is uit die agenda van die Algemene Sinode van 2007. (Met dank aan Oom Joepie en Johan Marais)

BYLAAG 2

HOMOSEKSUALITEIT

1. SAMEVATTING

Hierdie is ’n samevatting van die motivering wat vanuit die Bybels-Christelike tradisie gedoen word. Hieruit handhaaf dit die standpunt dat homoseksuele gedrag nie Skriftuurlik verantwoord is nie. Om die volle beredenering te sien, word u na die volledige bylaag verwys.

1.1 ’N BESLUIT IS NOU NOODSAAKLIK

Dit is belangrik om daarop te let dat hierdie debat in die NG Kerk nie deur die mense wat op grond van die Skrif sê dat gay verhoudings verkeerd is, op die agenda van die NG Kerk geplaas is nie. As gevolg van diebesluite van kerke in die buiteland rakende gay verhoudings het die NG Kerk in 1986 ’n besluit hieroor geneem. Die heropening van die debat in die NG Kerk is as gevolg van die optrede van kerke in die buiteland asook die samelewing en voorstanders van gay verhoudings se aandrang daarop. In 1995 is die debat in die Sinode van Wes-Kaapland op die agenda van die kerk geplaas en die Algemene Sinode het in 1998 besluit dat daar weer na die saak gekyk moet word. Die Algemene Sinode van 2004 het ’n duidelike besluit uitgestel tot die volgende sinode en ’n taakspan aangestel om die sinode met ’n verslag te dien. Daarom hierdie motivering en aanbevelings aan die Algemene Sinode.

’n Duidelike besluit wat aan lidmate en gemeentes ’n riglyn gee, kan nie langer uitgestel word nie, onder meer om die volgende redes:

1.1.1 Die feit dat die NG Kerk reeds sedert 1989 met die saak besig is; en nog nie tot ‘n besluit gekom het nie;

1.1.2 Die feit dat besluite van die Algemene Sinode van 2002 en 2004 op verskillende maniere vertolk word en tot verwarring lei;

1.1.3 Die feit dat die voorlegging wat voor die Parlementêre Komitee op burgerlike verbintenisse gemaak is, verskillend vertolk is;

1.1.4 Die sterk aandrang van lidmate, gemeentes en sinodes op leiding van die Algemene Sinode;

1.1.5 Indien die Sinode sou besluit om die saak na kerkrade te verwys of nie verdere besluite te neem nie, herroep die Sinode inderwaarheid vorige besluite van die Algemene Sinode, en skep daarmee ruimte vir die sanksionering van homoseksuele verhoudings en – huwelike;

1.1.6 Die besluit kan nie na kerkrade afgewentel word nie, want ingeval ’n klag oor homoseksuele gedrag by n ampsdraer aanhangig gemaak word, moet die klag nie deur ’n kerkraad nie, maar deur die ring hanteer word. Dit is duidelik dat die saak – teologies en kerkordelik – die verantwoordelikheid van die kerkverband is. Dit is die oordeel van hierdie motivering dat dit dringend noodsaaklik is dat die Algemene Sinode nou tot ’n besluit oor die saak kom. Daar is reeds verskeie streeksinodes, ringe en gemeentes wat oor die saak ’n besluit geneem het. Daarom dien ons die Algemene Sinode met hierdie motivering en aanbevelings en vra ons dat die Algemene Sinode nou ’n besluit daaroor neem.

1.2 DIE SKRIF

In hierdie motivering word daarvan uitgegaan dat die Bybel die hoogste gesag vir leer en lewe is. Hierdie gesag is nie geleë in die leser of in die kerk wat dit as gesaghebbend aanvaar nie, maar in God self gesetel. Die Bybel kry nie gesag wanneer ons of die kerk daaraan gesag toeken nie; dit het eie gesag omdat God Hom deur hierdie Woord die helderste en duidelikste bekend maak. Hierdie verslag vereenselwig hom met die NGB, art 3, en ons bely “dat hierdie Woord van God nie deur die wil van ’n mens voortgebring is nie, maar dat deur die Heilige Gees meegevoer, mense die woord van God verkondig het” (2 Pet 1:21). Ons aanvaar die Bybel as “heilig en kanoniek”, nie in die eerste plek omdat die kerk die geskrifte van die Bybel aanvaar en as sodanig beskou nie, maar “veral omdat die Heilige Gees in ons hart getuig dat hulle van God is” (NGB, art 5). Ons glo dat die Bybel “die wil van God volkome bevat en dat alles wat die mens vir sy saligheid moet glo, daarin voldoende geleer word” (NGB, art 7). Ons verstaan ook saam met die kerk dat die Skrif met sy menslike en historiese karakter in sigself die Woord van God is. Die Bybel is nié slegs ’n geloofsboek wat die getuienis en ervaring van mense in hul nadenke oor hul geloof bevat nie (maw die verhale van mense in hul denke oor God), maar kom tot ons as die verkondiging van God se omgang met mense in hul woorde soos in die geskiedenis geopenbaar is. Binne hierdie konteks bely ons ook dat die Skrif wat in die gestalte van mensewoorde tot ons kom, die boodskap van God dra – vandaar die begrip “Woord van God in mensewoorde” (Agenda & Handelinge, Algemene Sinode 2002:203). In ons soeke na antwoorde op die vrae van ons dag, neem die kerk deeglik kennis van die bevindings van wetenskaplikes. Binne die konteks van hierdie verslag is dit daarom noodsaaklik om dit wat natuurwetenskaplike navorsing op die terrein van die anatomie, fisiologie en genetika sê, ernstig te neem.

Die Bybel bly egter altyd vir die kerk die hoogste bron van waarheid wanneer dit gaan oor ons nadenke oor die mens se verhouding tot God en sy medemens (NGB art 7) – ook wanneer dit gaan oor sy seksuele verhoudings.

1.2.1 Gesag van die Skrif

Hierdie motivering is van mening dat die verskillende konklusies waartoe daar rakende homoseksualiteit gekom word, nie bloot ’n verskillende lees van die Bybel verteenwoordig nie, maar dat dit ten diepste oor die gesag van die Skrif gaan. Ons is van mening dat daar drie maniere is waarop die gesag van die Skrif nie gehonoreer word nie:

Eerstens word die gesag van die Skrif verminder deur te beweer dat dit in die Skrif net oor sekere perverse gedrag gaan soos pedofilie of heteroseksueles wat teen hulle natuur optree, of dat dit oor tempelprostitusie handel en daarom niks sê oor permanente homoseksuele verhoudings nie. Ons is van mening dat so ’n hantering van die Skrif “inleeskunde” is. Hierdie inleeskunde word gepleeg om ’n bepaalde standpunt te verantwoord.

Tweedens word beweer dat die Bybel in ’n gans ander tyd geskryf as dit waarin ons vandag lewe en dat die mense dus nie oor die kennis beskik het wat ons vandag het nie. Daarom is dit wat die Bybel oor homoseksuele gedrag sê, nie meer vandag van toepassing nie.

’n Ander manier waarop die gesag van die Skrif ondermyn word, is om te sê dat die Bybel inderdaad

negatief oor homoseksuele gedrag oordeel, maar dat die Bybel ons nie meer vandag met etiese gedrag kan help nie. Al wat ons kan doen, is om beginsels soos liefde en geregtigheid en inklusiwiteit op vandag se mense toe te pas. Hiermee moet ons self die verantwoordelikheid neem om vandag etiese besluite te neem. Bogenoemde verteenwoordig nie maar net verskillende maniere van Bybeluitleg nie. Dit gaan daaroor of die Bybel se gesag ook oor etiese kwessies aanvaar behoort te word of nie. Hierdie verslag handhaaf die gesag van die Skrif en daarom het dit vir ons die laaste sê oor seksuele gedrag.

1.2.2 Respek vir die Bybel

Wanneer ons die gesag van die Skrif aanvaar, moet ons vir die Skrif self respek hê, in die sin dat die Skrif soos dit na ons kom, gerespekteer word. Die historiese omstandighede, die literatuursoort, die sosiale en ekonomiese omstandighede en die taal en kultuur van die mense van wie ons lees, moet in berekening gebring word wanneer na die boodskap daarvan gevra word. Wanneer die gesag van die Skrif aanvaar word, aanvaar ons nie dat dit fundamentalisme in die klassieke sin van die woord is nie. Dit wys die verslag self af, maar dat die Skrif fundamenteel is vir die verstaan van die geloof, die kerk en die morele lewe van gelowiges, daarvoor deins dié motivering nie terug nie.

1.2.3 Nie enkele tekste nie, maar die hele Bybel

In die motivering vir die aanbevelings word daar nie slegs ingegaan op die enkele tekste in die Bybel wat na homoseksualiteit verwys nie, maar word na die getuienis van die hele Bybel rakende seksualiteit gekyk. Die konsekwente getuienis in die Skrif dat seksualiteit slegs binne die verbintenis van een man en een vrou, binne die huwelik uitgeleef kan word, is vir hierdie verslag bepalend.

1.3 WAT SÊ DIE SKRIF?

1.3.1 Die Ou Testament

Gen 1-3 speel ’n bepalende rol in die verstaan van die huwelik in die Ou Testament. Dat menswees uit

manwees en vrouwees bestaan en dat die huwelik ’n blywende verbintenis tussen ’n man en vrou is, blyk duidelik by die lees hiervan. Daar is ook geen onduidelikheid dat daar ’n aantrekkingskrag tussen man en vrou is – dus ’n seksuele verhouding. Hierdie verhouding wat in Gen 1-3 beskryf word, word deur die Bybel as die oorspronklike voorbeeld van die huwelik gesien. Ook Jesus verwys na die oorspronklike bedoeling van God. Indien die Skrif die verstaan van die huwelik soos in Gen 1-3 handhaaf, is dit dus nie moontlik om aan die huwelik as iets tussen mense van dieselfde geslag te dink nie. Daar is vier tekste in die Ou Testament waar homoseksuele dade pertinent ter sprake kom: Gen 19:5, Rigt 19:22, Lev 18:22 en 20:13. Gen 19:5 en Rigt 19:22 is in die lig van die feit dat homoseksuele verkragting daarin ter sprake is, nie relevant in die etiese beoordeling van ’n vrywillige seksuele verhouding van liefde en trou tussen twee persone van dieselfde geslag nie. Lev 18:22 en 20:13 bevat uiters sterk uitsprake teen homoseksuele verkeer tussen mans. In beide verse word sodanige optrede as ’n gruwel aangedui. Die feit dat beide persone wat by die homoseksuele omgang betrokke is, in Lev 20:13 veroordeel word, toon dat on¬gedwonge seksuele verkeer tussen twee mans daar ter sprake is. Die rede vir die krasse oordeel oor ongedwonge seksuele verkeer tussen mans in Lev 18:22 en 20:13 word nie verklaar uit ’n afkeur van sekere praktyke in die Kanaänitiese godsdiens nie. Niks in Lev 18:22 of 20:13 of die nabye konteks dui daarop dat die kultiese praktyke van die Kanaäniete in dié tekste ter sprake kom nie. Die krasse oordeel oor ongedwonge seksuele verkeer tussen mans word ook nie verklaar as die uitvloeisel van ’n spesifieke beskouing oor die manlike geslagsrol nie. Indien die handhawing van die geslagsrolle die hoofmotief vir die prohibisies teen seksuele omgang tussen mans was, is dit vreemd dat die aktiewe deelnemer net soos die passiewe deelnemer in Lev 20:13 veroordeel word. Die krasse oordeel oor ongedwonge seksuele verkeer tussen mans word ook nie verklaar as die uitvloeisel van ’n wêreldbeeld waarin groot klem op vrugbaarheid en voortplanting geplaas is nie. Die enigste motief vir seksuele omgang in die Ou Testament was nie die voortbring van kinders nie. Spr 5:15-20 besing byvoorbeeld die vreugde wat ’n man ervaar om deur sy vrou se liefde “bedwelm” te word. Die buitengewone afkeer in dieselfde geslag seksuele verkeer in Lev 18:22 en 20:13 maak in die lig van die Bybelse denke sin. Soos reeds gemeld, word die heteroseksuele man-vrou-verhouding in Gen 1-3 beskryf as die oorspronklike voorbeeld van die huwelik. Daarin lê die diepste grond vir die sterk afkeur in homoseksuele omgang tussen mans in Lev 18:22 en 20:13.

Die volgende argumente oor die uitsprake in Lev 18:22 en 20:13 kan nie aanvaar word nie:

• Dat dit in stryd sou wees met Christus se liefdesgebod

• dat dit deel vorm van wette wat dit ten doel gehad het om Israel kulties van hulle buurvolke af te sonder en daarom in die lig van Christus se inklusiewe bediening nie op die Nuwe-Testamentiese gelowige van toepassing is nie

• dat dit deel uitmaak van die heiligheidswet met ’n klem op kultiese heiligheid en daarom ook nie op die Nuwe-Testamentiese gelowige van toepassing is nie

• omdat die dade wat in Lev 18:22 en 20:13 verbied word, waarskynlik insidenteel was, kan ’n

homoseksuele verhouding wel geregverdig word.  Die siening wat die verhouding tussen Jonatan en Dawid tipeer as voorbeeld van ’n homo-erotiese verhouding wat in Israel sonder religieuse veroordeling bedryf sou gewees het, kan in die lig van die relevante tekste in 1 en 2 Samuel nie gehandhaaf word nie. Die vriendskap tussen Dawid en Jonatan het besliste politieke ondertone gehad. Daar is egter geen aanduidings dat dit enige seksuele ondertone gehad het nie. Die praktyk van homoseksualiteit is in skerp disharmonie met die Ou-Testamentiese siening van die verhouding tussen man en vrou. Selfs indien geen van die tekste in die Ou Testament waarin na homoseksuele verkeer verwys word, op die moderne verskynsel van die beoefening van dieselfde-geslag seks binne ’n verhouding van liefde en trou van toepassing sou wees nie, kan dié praktyk nie vanuit die Ou

Testament geregverdig word nie.

1.3.2 Die Nuwe Testament

1.3.2.1 Permanente homoseksuele verhoudings van liefde en trou

By die lees van en interpretasie van die gegewens van die Nuwe Testament rakende homoseksualiteit is dit ’n vraag of die Bybelskrywers van permanente gay verhoudings geweet het. Daar is oorvloedige bewyse dat daar wel in die tyd vóór en ná die Nuwe Testament permanente homoseksuele verhoudings of huwelike bestaan het. Om enkeles te noem:

Vroue: Lukianus vertel in sy Dialogues of the Courtesans van vroue uit die stad Lesbos (waarskynlik waar die benaming “lesbies” vandaan kom) wat permanente verhoudings met mekaar gehad het. So is ene Megilla van Lesbos met ’n vrou van Korinte getroud (Boswell 1996:83; Brooten 1996:51-52).

Mans: Xenophon van Efese (Timoteus was in Efese predikant toe die boek 1 Timoteus geskryf is) vertel van homoseksuele verhoudings van liefde en trou in dié stad. ’n Voorbeeld hiervan is Hippotoos. Hy het ’n man van dieselfde ouderdom (dus nié pederastie nie) as hy liefgehad. So was die eerste groot liefde van Dionusios ’n ander man met die naam van Ampelus.

Aristoteles het ’n positiewe siening van liefde vir dieselfde geslag gehad. Hy motiveer dit juis vanuit dit wat vandag as “homoseksuele oriëntasie” bekend staan. Volgens hom word sekere mense met ’n homoseksuele disposisie gebore. Ander voorbeelde is Sokrates wat ’n permanente verhouding met Agaton gehad het.

Plato se langtermynverhouding met Dion van Sirakuse het begin toe Plato 50 jaar oud was en Dion 35 jaar – dus nie pederastie nie. Pausanias, die spreker in Plato se Symposium, is ’n historiese figuur. Sy

homoseksuele verhouding met ’n digter het vir ten minste 12 jaar geduur. Daar bestaan nie alleen getuienis dat die Griekse filosowe kennis gedra het van wat as ’n bio-sosiale homoseksuele oriëntasie bekend gestaan het nie, of dat daar wel permanente homoseksuele verhoudings van liefde en trou in die Griekse kultuur voorgekom het nie. Gedurende die tyd toe die Nuwe Testament geskryf is, was daar selfs amptelike homoseksuele huwelike. Een van Keiser Nero se manlike lewensmaats is ook as “koningin” vereer. Dit is bloot interessant om ook daarvan kennis te neem dat die buite-Bybelse

Judaïsme kennis van sulke verhoudings gehad het. Van die Rabbynse literatuur het ook kennis gedra van lesbiese verhoudings. Dit is binne bogenoemde agtergrond wat die lees van die gedeeltes in die Nuwe Testament waarin na homoseksuele dade verwys word, gedoen moet word.

1.3.2.2 Die bediening en getuienis van Paulus

Die volgende argumente word onder andere afgewys:

Dat die betrokke NT-gedeeltes verwys na mans wat met seuns seksueel verkeer het, of na seksuele

losbandigheid, want dit is al tipe homoseksuele verhoudings wat Paulus geken het. Die NT-uitsprake is dus nie van toepassing op die hedendaagse permanente gay verhoudings nie.

Grond vir afwysing: Hierbo is aangetoon dat permanente homoseksuele verhoudings ’n redelik bekende verskynsel in die Griekse en Romeinse kultuur van Paulus se tyd was. Sommige het selfs daarna as huwelike verwys. Die Joodse skrywers het dié verhoudings eenparig afgewys. Dit is hoogs waarskynlik dat Paulus van sulke permanente verhoudings geweet het. Nogtans volg hy – soos meeste Christene van dié tyd – die Ou-Testamentiese en Joodse tradisie in sy afwysing van homoseksuele gedrag, ook in permanente verhoudings.

Dat 1 Kor 6:9 en 1 Tim 1:10 verkeerd vertaal word.

Grond vir afwysing: Die twee Griekse woorde wat hier gebruik word is arsenokoitai – letterlik ’n samestelling uit arsen (manlik) en koité(slaap), dus “manneslapers” – en malakoi (wat letterlik “sagtes”) beteken. Die voor die handliggende vertaling is “mans wat bymekaar slaap”, maar dit word ontken. Dit verwys, word gesê, na “mans wat rondslaap” – dus mans wat in die algemeen losbandig is. Daar is ander woorde wat deur buite- Bybelse skrywers gebruik is om na homoseksueles te verwys, word gesê. Hoekom het Paulus nie daardie woorde gebruik nie?

Dié argument oortuig nie. In Paulus se tyd was daar nie ’n woord vir “homoseksueel” nie, dus moes hy ’n beskrywing gee. Waar soek hy sy beskrywing? Nie by buite-Bybelse skrywers nie, maar by sy Bybel, die LXX, die OT in Grieks – en daar lees hy in Lev 18:22 en Lev 20:13 dat die verkeerd is as mans bymekaar slaap. Die woorde wat hier gebruik word is:

Lev 18:22: kai meta arsenos ou koiméthésé koitén gunaikos… (en met ‘n man mag jy nie slaap soos met ‘n vrou nie…)

Lev 20:13: kai hos an koiméthé meta arsenos koitén gunaikos… (en hy wat met ‘n man soos met ‘n vrou slaap…) Paulus maak nou ‘n nuwe woord: Hy neem arsén (manlik) en koité (bed) en maak ’n samestelling: “manneslapers”. Maar die belangrike punt is: Paulus het die nuwe woord arsenokoitai saamgestel uit dit wat hy in Lev 18 en 20 gelees het – en daar word baie duidelik nie gepraat van mans wat in die algemeen losbandig is nie, maar van “mans wat bymekaar slaap”, dus mans wat seks met mekaar het. Dit is dus wat Paulus in 1 Kor 6 en 1 Tim 1 afwys.

Daar is nog ’n rede waarom dit duidelik is dat malakoi oute arsenokoitai in 1 Kor 6 nie gewoon “mans wat rondslaap” kan beteken nie. In dié sondelys is daar minstens twee ander terme wat dié tipe losbandige gedrag beskryf: pornoi (“onsedelikes”) en moigoi (egbrekers). Dieselfde geld vir 1 Tim 1:10, waar die skrywer pornoi vir “ontugtiges” gebruik – en arsenokoitai vir “mense wat homoseksualiteit beoefen”.

Dat Rom 1 verwys na mense wat openlik teen God gekies het, verwys. Daarom sou Paulus se woorde nie van toepassing wees op Christen gay persone nie.

Grond vir afwysing: Die rede waarom homoseksuele gedrag deur Paulus afgekeur word, is nie net omdat dit as daad van opstand teen God gedoen word nie. Sekere gedrag is verkeerd, nie net omdat dit met die verkeerde intensie gedoen word nie; dit is verkeerd omdat dit teen God se skeppingsbedoeling is. Hebsug en gemeenheid as sodanig is verkeerd (Rom 1:29), daarom sou Christengelowiges nie kon argumenteer dat hulle maar hebsugtig kan wees nie. Net so, meen Paulus, is homoseksuele gedrag as sodanig verkeerd. Paulus definieer opstand teen God in Rom 1:21 as mense wat, “al weet hulle van God… Hom nie as God eer en dank nie”. Opstand teen die Here manifesteer nie net in ’n openlike keuse téén God nie. Dit kan subtiel en geraffineerd wees. Dit kan ook die vorm aanneem van ’n vroom, Christelike lewe, wat God in baie opsigte behaag – behalwe in een opsig waarop God juis aanspraak maak, soos die seksuele lewe. Ons kan dus nie ’n ander gevolgtrekking maak nie as dat Paulus homoseksuele gedrag as sodanig afgewys het.

1.3.2.3. Die bediening en getuienis van Jesus

Daar is twee belangrike redes op grond waarvan geargumenteer word dat Jesus homoseksuele verhoudings goedgekeur het. Ons stem nie met hierdie argumente saam nie. Die argumente is:

• Jesus het die Joodse wet opgehef en in die plek daarvan die liefdesgebod ingestel.

• Jesus se inklusiewe bediening waardeur Hy dié wat deur die destydse samelewing eenkant toe gestoot is, opgesoek en saam met hulle geëet – die tollenaars, prostitute, die melaatses.

Dié argumente oortuig egter nie.

Jesus betoon liefde teenoor die vrou betrap in owerspel (Joh 8), maar Hy keur nie haar optrede goed nie. Inteendeel, Hy vermaan haar om “van nou af nie meer sonde te doen nie”. Net so, maak Jesus ’n punt om saam met Saggeus die tollenaar te eet: Hy aanvaar Saggeus as mens, maar nie Saggeus se oortreding nie. Saggeus moet dit wat hy op oneerlike wyse van mense gevat het, vierdubbel teruggee (Luk 19). Jesus se inklusiewe benadering beteken nie die goedkeuring van verkeerde gedrag nie.

Jesus het nie die hele Joodse wet opgehef nie, wel die harde strafreëls van die wet (steniging van die

owerspeler) of die uitsluitende reinheidswet (bv in Mark 5, die vrou wat aan bloedvloeiing gely het). In

meeste wetsvoorskrifte oor die huwelik en seksualiteit, het Jesus in werklikheid die wet strenger toegepas – byvoorbeeld by egskeiding (Matt 5:31). Oor die sake waar Jesus die Joodse wet verander het, het Hy groot teenstand van die Skrifgeleerdes gekry. Oor die wetsvoorskrifte oor homoseksuele gedrag word daar niks gesê nie. Dit is duidelik dat, as Jesus homoseksuele gedrag sou goedgekeur het, Hy groot teenstand van die Skrifgeleerdes sou gekry het. Die NT sê niks daaroor nie; die logiese afleiding is dat Jesus die wetsvoorskrifte oor homoseksuele gedrag nie gewysig het nie, maar wel bevestig het.

1.3.2.4. Nie enkele tekste nie, maar die gang van die Bybel

Ten slotte word die argument verwerp dat daar slegs op ses plekke in die Bybel na homoseksualiteit verwys word, en dat dit daarom ’n onbelangrike saak is. Seksualiteit is dwarsdeur die Bybel ’n belangrike saak, maar die Bybel gaan daarvan uit dat die regte plek vir seksualiteit die huwelik van een man en een vrou is. Dit is duidelik die Bybelse norm. Die Bybel het nie ’n veldtog teen homoseksuele gedrag nie – asof dit ’n groter en verskrikliker sonde as ander sondes sou wees nie – maar wanneer wel daaroor gepraat word, is dit vir die Bybelskrywers duidelik dat dit nie die regte vorm van seksuele gedrag is nie. Dit is dus verkeerd om te meen dat die standpunt van Bybelskrywers slegs op die sogenaamde “ses homoseksualiteit-tekste” gegrond word. Die ses tekste is eerder enkele plekke waar die tradisie eksplisiet verwoord word, maar hulle verteenwoordig ’n hele Bybelse (en buite-Bybelse Joodse) tradisie wat seksuele verhoudings van dieselfde geslag eenstemmig afgewys het. As ’n mens dus van die gang van die Bybel praat, is dit duidelik dat dieselfde geslag seksuele verhoudings deurgaans afgewys word, en dat die Bybelse norm is dat man en vrou met mekaar ’n permanente seksuele verhouding tree.

1.4 WAT SÊ DIE SKRIF VANDAG VIR ONS?

Om van die Skrif tot by ons situasie van vandag te kom, maak ons van ’n kanonieke hermeneutiek gebruik (hermeneutiek – hoe lê ons die Bybel uit). Met ’n “kanonieke hermeneutiek” word bedoel dat die hele kanon, dus die hele Bybel, gesag het en tot spraak gebring moet word. Die Bybel self sal ons help om te weet wat ons vandag moet handhaaf en wat nie. Indien die Bybel in die Nuwe Testament ’n saak soos die bring van offers afwys, word die saak versag of ongeldig. Wanneer ’n saak soos die huwelik bevestig word, dan word dit gehandhaaf. Dit is wat die Nuwe Testament met die Ou Testament se uitsprake rakende homoseksualiteit doen. Dit word gehandhaaf en daarom kan ons vandag nog daarby bly.

1.5 GEBROKENHEID VAN DIE MENS

Gebrokenheid: Uit die Skrif is dit duidelik dat alle mense sondaars is. By die lees van die verhale van

Abraham, Dawid, Petrus en so meer, is dit duidelik dat al die mense – selfs die geloofshelde! – deur die

sonde aangetas is. Dit word ook helder en duidelik in die NGB verwoord.

Artikel 14: “Hy het homself egter, deur na die woorde van die duiwel te luister, willens en wetens aan die sonde en daarmee aan die dood en die vervloeking onderwerp.” Die mens het “oortree en homself deur die sonde losgeskeur van God, … so het hy sy hele natuur verderf” en “in al sy doen en late goddeloos, verkeerd en verdorwe geword het. … Al die lig wat in ons is, het immers in duisternis verander.”

Artikel 15: “Ons glo dat die erfsonde deur die ongehoorsaamheid van Adam oor die hele menslike geslag uitgebrei het. Dit is ’n verdorwenheid van die hele natuur… Dit is hierdie wortel wat in die mens allerhande sondes laat uitspruit.”

Die Skrif leer ons dat mense hulleself nie kan verontskuldig nie en dat niemand kan sê dat hulle sonder

sonde is nie. Daarom kan ons ook vandag nie sê dat daar mense in die kerk is wat hulle kan verontskuldig of wat beter of minder sondig as ander is nie. Daar is ook nie ’n enkele vrug van die sondige wortel van die mense wat groter skuld veroorsaak as ’n ander nie. Almal is vrugte van dieselfde wortel, die natuur van die mense wat verdorwe is. Daarom is al die vrugte wat uit die wortel van die sondige natuur spruit, nie vir God goed en aanneemlik nie.

Wanneer ons na die mens in die algemeen in die lig van die Skrif en die belydenis kyk, is dit duidelik dat die mens in sy wese gebroke is. Hierdie gebrokenheid kom na vore in al die verhoudings waarin die mense staan – teenoor hulleself, ander mense, strukture en die skepping.

Heil: Alle mense ontvang dus die heil op dieselfde manier; almal ontvang die heil uit genade; vir almal is dit God se guns wat hulle in Christus ontvang. Daar is by niemand dade wat hom/haar minder afhanklik van die genade en die guns van God maak nie. Niemand kan enigiets in ruil gee vir die sondige vrugte wat hulle lewe dra nie. Die heil is alleen deur Christus, wat uit die maagd Maria gebore is, wat aan ’n werklike kruis gespyker is en wat werklik uit die dood opgestaan het. Niemand wat die gawe van God se vergifnis en die nuwe lewe as gawe van die Gees ontvang het, kan daarna roem op volmaaktheid nie. Al wat hulle kan bely, is dat hulle begenadigde sondaars is. Daarom stry

alle begenadigdes tot die einde van hulle lewe teen die sondige wortel waaruit daar vrugte spruit wat hulle voortdurend in dankbaarheid van die genade van God laat lewe. Dit beteken egter nie dat die vrug van die Gees nie in hulle lewens sigbaar is en toenemend sigbaar sal word nie. Die Gees lei die gelowiges juis om navolgers van Christus te wees. In die verslag is daarop gewys dat die bedoeling van God van die begin was dat die mens as man en vrou met mekaar saam sal lewe en lewensgemeenskap met mekaar sal hê. Daarom sal gelowiges enigiets wat uit die wortel van gebrokenheid groei, teenstaan so lank hulle lewe en hulle lewens doelbewus inrig in die lig van die waarheid dat die huwelik die eksklusiewe verbintenis van ’n man en ’n vrou is. Alle andersoortige verbintenisse word teengestaan.

Alreeds deel van die heil wat God deur Christus bewerk is, tog steeds worstelend met die kern van menslike gebrokenheid: Omdat ons voortdurend gekonfronteer word deur ons gebrokenheid terwyl ons ons verheug in die genadige God se toetrede tot ons lewens, weet ons dat alle gelowiges tot aan die einde van ons lewe nie alleen in die oorwinning van Christus en vernuwing van ons lewe verheug is nie, maar treurons almal tot aan die einde van ons lewens oor ons onvolkomenheid en hardnekkige sondigheid. Daarom aanvaar ons dat dit die taak van die kerk is om alle mense te maan teen tevredenheid met die stand van hulle lewe en hulle aan te spoor om telkens weer hulle lewens opnuut in te rig volgens die ewige Woord van God. Tot hierdie lewenslange stryd teen die sonde en voortdurende aangryping van die heil moet gelowigesmekaar aanspoor.

1.6 DIE NA-BYBELSE GETUIENIS (KERKVADERS)

Die kerkvaders kontinueer die Bybelse standpunt wat ons so pas voorgehou het as die standpunt van die Bybel rakende homoseksuele gedrag. Homoseksuele gedrag word deurgaans afgewys. Om ’n paar

voorbeelde te noem: Vir Klemens van Alexandrië geld heteroseksuele verhoudings en word dit ook met

voortplanting verbind. Vir Polikarpus en die Pastor van Hermas is seksualiteit en huwelike duidelik

heteroseksueel. Hierdie standpunt word gehandhaaf vanaf Polikarpus, biskop van Smirna (sterf waarskynlik in 155 nC) tot by Augustinus van Hippo wie se verwysing na homoseksuele praktyke ook afwysend is (400 nC).

1.7 WAT SÊ DIE WETENSKAP?

1.7.1 Voorkoms

Daar word beweer dat 7-10% mense homoseksueel is. Die korrektheid hiervan word egter in hierdie

aanbieding bevraagteken. Die bron wat dikwels aangehaal word, is dié 1940-verslag van Alfred Kinsey. Aanvanklik is dit as gesaghebbend beskou, maar latere navorsing het hierdie resultate gediskrediteer, o.a. omdat hy van ’n skeefgetrekte steekproef gebruik gemaak het. Sy oorwegend geskatte syfer vir mans wat oorwegend lewenslank homoseksuele verhoudings gehandhaaf het, was slegs 4%. ’n Resente studie rakende die persentasie persone wat ’n sogenaamde homoseksuele oriëntasie het, is deur Edward Laumann by wyse van ’n steekproef van 5 000 persone in die Verenigde State van Amerika gedoen. Volgens hierdie studie is bevind dat slegs 2% mans en 0,9% vroue hulself as homoseksueel beskryf, terwyl ’n addisionele 0,8% mans en 0,5% dames hulself as biseksueel beskryf. Die homoseksuele sosioloog, Joseph Harry, se navorsing lewer dieselfde resultate. Volgens sy navorsing het 2,4% mans ’n homoseksuele oriëntasie.

1.7.2 Die moontlikheid van verandering of ’n skuif in oriëntasie

Hierdie verslag gaan op grond van gepubliseerde navorsing daarvan uit dat dit vir sommige mense moontlik sou wees om ’n skuif weg van ‘n selfde geslag aangetrokkenheid te maak.

1.7.3 Die genetika en homoseksualiteit

Ondanks ’n stroom berigte tot die teendeel in die populêre media oor die afgelope dekade of drie, is daar geen betroubare wetenskaplike bewyse dat homoseksualiteit ’n genetiese oorsaak het nie. Inteendeel, die laaste 15 jaar se navorsing het daartoe gelei dat die meeste gedragswetenskaplikes wat eers van mening was dat die teendeel waar is, tot die gevolgtrekking gekom het dat omgewingsinvloede ’n oorheersende rol speel in die ontstaan van homoseksuele oriëntasie en dat die antwoord vir die oorsake daarvan waarskynlik eerder op die gebied van die psigologie as op die gebied van die genetika gevind sal word. Bepaalde genetiese en pre-natale faktore kan hoogstens bydra tot bepaalde faktore wat ’n persoon meer vatbaar vir homoseksuele gedrag kan maak. Ons gaan ook van die standpunt uit, dat selfs al sou die wetenskap onteenseglik kon bewys dat iemand homoseksueel gebore word, ’n wetenskaplike gegewe nie ’n teologiese begrip (soos sonde) kan veto nie.

1.8 HOE HELP DIT ONS? PASTORALE MERKERS

Meer volledige riglyne vir die pastoraat word hieronder in die uitgebreide motivering gegee. Die teologiese begronding van die pastoraat is die oortuiging dat die Bybelse getuienis duidelik is oor die monogame en heteroseksuele aard van die huwelik as slegs ’n verbintenis tussen ’n man en ’n vrou. Erkenning word gegee dat almal in die werklikheid van die sondige gebrokenheid leef. Christene word opgeroep tot selfbeheersing – ook wat ons seksuele drange en behoeftes betref. Die oortuiging, vanuit die waarheid van die evangelie, dat die verlossingswerk van die Here Jesus Christus ons van die heerskappy van die sonde vrymaak, behoort ’n sentrale tema tydens die pastoraat te wees. Dit word ook gedra deur die wete dat beide die waardes van vryheid en grense deel van ons Christelike getuienis is, en die erkenning dat die Christen se getuienis soms in die gemeenskap aanstoot sal gee. Wanneer daar met die homoseksuele persoon op weg gegaan word, behoort van ’n omvattende benadering gebruik gemaak te word, waarin die Skrif, wat die bepalende rol speel, die individu en die Christelike gemeenskap ter sprake kom. Die keuse vir hierdie riglyne het nie die uitsluiting van die gay persoon uit die geloofsgemeenskap in die oog nie, en is gebaseer op die vertrekpunt dat die pastoraat aan die gay persoon vanuit ’n grondhouding van respek vir die ander, aanvaarding en Bybelse liefde moet geskied. Homofobie word afgewys, selfaanvaarding in gebrokenheid word beklemtoon. Die ondersteuning van die familie van die gay persoon en integrering van die gay persoon in die gemeenskap van die gelowiges is verdere sleutelfaktore in dié pastorale benadering. Daarby word ’n appèl op die kerk gedoen om diegene wat geweld teen mense pleeg wat daartoe sou lei dat sommige persone ’n homoseksuele oriëntasie ontwikkel, tot verantwoording te roep en nie te beskerm nie.

1.9 GEVOLGTREKKING EN DIEPSTE OORTUIGING

Ons is bewus daarvan dat almal nie met hierdie siening saamstem nie. Ons vra hierdie lidmate om deel van die kerk van Christus te bly, en om die Here hier te bly dien. Daarom rig die kerk ook ’n uitnodiging aan alle mense, met watter probleem of gebrokenheid ook al, maar in besonder aan mense met ’n homoseksuele oriëntasie of gerigtheid, om saam met alle ander sondaars (lidmate van die kerk) die verrassende bevrydende boodskap van Christus aan te hoor. Ons nooi almal uit om saam in die kerk op weg te gaan waar ons deur die Heilige Gees in die spore van Christus gelei word.

Ons bely en erken dat dit God se bedoeling van die begin was dat ons man en vrou moet wees, en dit bely ons openlik. Ons is nie skaam om dit te bely nie. Wanneer ons dit bely, dink ons ook met deernis aan almal wat ’n homoseksuele oriëntasie het. Om as man en vrou in ’n huwelik van liefde en trou te staan, is nie ’n reg nie, maar ’n voorreg en ’n gawe van God. Op grond van die konsekwente getuienis van die Skrif dat die huwelik en enige ander vorm van seksuele verhoudings, slegs heteroseksueel is, kan ons nie anders nie – en word ons daartoe gedring, selfs al is ons bewus dat vir sommige so ’n besluit pyn mag veroorsaak – as om te getuig dat permanente homoseksuele verhoudings en – huwelike nie Skriftuurlik verantwoord kan word nie.