Daar word dikwels gesê “Ons gemeente is volledig Kerk, daarom raak wat op sinodale vlak gebeur ons nie regtig nie!”

Hierdie is ‘n absolute drogredenasie.

Daar is drie redes waarom Evangeliese gemeentes nie onder dwalende kerkvergaderings kan voortbestaan nie.

  1. God verbied dit in sy Woord.

2 Johannes 1:7Want baie verleiers het in die wêreld ingekom: die wat nie bely dat Jesus Christus in die vlees gekom het nie. Dit is die verleier en die Antichris. 8Wees op julle hoede, dat ons nie verloor wat ons deur arbeid verkry het nie, maar ’n volle loon ontvang. 9Elkeen wat ’n oortreder is en nie bly in die leer van Christus nie, hy het God nie. Wie in die leer van Christus bly, hý het die Vader sowel as die Seun.
10As iemand na julle kom en hierdie leer nie bring nie, ontvang hom nie in die huis nie en groet hom nie. 11Want die een wat hom groet, het gemeenskap aan sy bose werke.

Romeine 16:17 En ek vermaan julle, broeders, hou hulle in die oog wat tweedrag en aanstoot veroorsaak teen die leer wat julle geleer het, en vermy hulle. 18Want sulke mense dien nie onse Here Jesus nie, maar hulle eie buik; en hulle verlei deur hul vriendelike en mooi woorde die harte van die eenvoudiges.

Openbaring 18:4 En ek het ’n ander stem uit die hemel hoor sê: Gaan uit haar uit, my volk, sodat julle nie gemeenskap met haar sondes mag hê en van haar plae ontvang nie.

2. Kerklike tug is een van die eienskappe van die ware kerk. Met dwalend hoëre vergaderings is die kerklike tug onmoontlik. 

Die Nederlandse Geloosbelydenis verklaar:

ERKE VAN DIE WARE EN DIE VALSE KERK
Ons glo dat ons sorgvuldig en met groot oplettendheid uit die Woord van God behoort te onderskei watter kerk die ware kerk is, aangesien al die sektes wat daar vandag in die wêreld is, hulle en onregte die naam kerk toe-eien. Ons praat hier nie van die huigelaars wat in die kerk met die goeies vermeng is en tog nie aan die kerk behoort nie alhoewel hulle uiterlik daarin is; maar ons sê dat ‘n mens die liggaam en die gemeenskap van die ware kerk moet onderskei van al die sektes wat beweer dat hulle die kerk is. Die kenmerke waaraan ons die ware kerk kan uitken, is die volgende: Wanneer die kerk die evangelie suiwer preek, die sakramente suiwer bedien soos Christus dit ingestel het en die kerklike tug gebruik om die sondes te straf – kortom, wanneer almal hulle ooreenkomstig die suiwere Woord van God gedra, alles wat daarmee in stryd is, verwerp en Jesus Christus as die enigste Hoof erken. Hieraan kan ons met sekerheid die ware kerk uitken en niemand het die reg om hom daarvan af te skei nie.

Vervolgens, aangaande die lidmate van die kerk: Ons kan hulle uitken aan die kenmerke van die Christene, naamlik hulle geloof dat hulle die enigste Verlosser Jesus Christus aangeneem het en dat hulle daarna die sonde ontvlug, die geregtigheid najaag, die ware God en hulle naaste liefhet, nie na regs of links afwyk nie en hulle sondige natuur met sy werke kruisig. Hiermee sê ons nie dat daar nie nog groot swakheid in hulle is nie; inteendeel, deur die Gees stry hulle juis al die dae van hulle lewe daarteen, terwyl hulle altyd weer hulle toevlug neem tot die bloed, die dood, die lyding en gehoorsaamheid van die Here Jesus Christus, in wie hulle deur die geloof in Hom vergewing van hulle sondes het.

Wat die valse kerk betref: Dit skryf aan homself en sy besluit meer mag en gesag toe as aan die Woord van God; dit wil homself nie aan die juk van Christus onderwerp nie; dit bedien die sakramente nie soos Christus dit in sy Woord beveel het nie, maar neem weg en voeg by na eie goeddunke; dit vertrou meer op mense as op Christus en dit vervolg hulle wat volgens die Woord van God heilig lewe en wat die valse kerk oor sy euwels, gierigheid en afgodery bestraf.

Hierdie twee kerke kan maklik uitgeken en van mekaar onderskei word.

Gestel ‘n plaaslike gemeente verkondig die woord suiwer en bedien die sakramente suiwer. Nou beroep hulle ‘n predikant. Na ‘n paar maande kom hulle agter dat hy nie die suiwer Woord glo nie. Hy beweer selfde geslag seks is nie sonde nie. Of dat die duiwel nie ‘n persoon is nie. Of dat Jesus nie uit ‘n maagd gebore is en uit die vlees opgestaan het nie. (Hierdie is alles kenmerke van liberale teologie, die teologiese stroom wat op die oomblik die Algemene Sinode en ons kweekskole oorheers)

Die kerkraad besluit om die dwalende predikant onder die tug te plaas. Ons kerkorde bepaal dat ‘n kerkraad nie self sy predikant onder die tug kan plaas nie maar dat ‘n ringsvergadering dit moet doen. Die probleem is die ring dwaal ook en vind hom onskuldig. Die kerkraad appelleer na die sinode. Die sinode stel ‘n dwalende ondersoekliggaam aan wat die predikant ook onskuldig verklaar. Die kerkraad apelleer na die Algemene Sinode wat ook dwaal en daarom ‘n dwalende ondersoek liggaam aanstel. Die predikant word onskuldig bevind.

Hierdie is duidelik demonstreer toe Julian Muller en  Ben du Toit, wat die mees basiese premisse van die evangelie verwerp, deur dwalende ondersoekliggame onskuldig bevind is aan dwaalleer.

Die kerkraad se enigste remedie is nou om ‘n siviele hof te nader. Die siviele hof bevind 1) Dat hulle nie uitprake oor die kerk se belydnis kan maak nie maar sal staan by die Algemene Sinode se (dwalende) uitleg van die belydenisskrifte, en 2) dat die predikant niks gedoen het om sy dienskontrak met die gemeente te verbreek nie en daarom nie sonder meer afgedank kan word nie.

Die kerkraad het dus geen beskerming teen dwaalleraars nie en kan op geen manier die tug toepas teen dwaalleraars nie.

‘n Plaaslike gemeente kan dus nie “Volledig Kerk” wees volgens ons belydenisskrifte, indien die hoëre kerkvergaderings waaronder die gemeente haarself plaas dwaal nie. So ‘n gemeente is eenvoudig nie korporatief deel van die ware Kerk nie, ten spyte daavan dat sy lidmate individueel lede van die Liggaam van Christus mag wees.

3. Die Algemene en Streeksinodes is deur die kweekskole se kuratoria kontraktureel gebind aan dwalende kweekskole. 

Die kweekskool van Tukkies het bewys dat hulle dwaal toe hulle Ferdie Mulder geskors het en Julian Muller, ten spyte van sy heidense New Age teologie, as vise dekaan aangestel het. Die kweekskool van Stellenbosch het bewys hulle dwaal toe hulle hierdie week ‘n oorweldigende pro-gay konferensie aangebed het waartydens die Bybel en die Evangelie in die modder vertrap is.

Ons kweekskole produseer dwaalleraars. Die predikante wat klaarmaak wat wel weer gebore is, is glad nie opgelei om gemeentes in die Gereformeerde leer te lei nie, omdat die kweekskole lank gelede reeds die Gereformeerde teologie in die praktyk verwerp het.

Solank as wat die sinodes gebind is aan dwalende kweekskole sal die ware Christene in die kerk altyd baklei teen dwaalleer, die geveg sal nooit ophou nie.  Geen gemeente wat kontraktureel verbind is daartoe om dwaalleraars uit dwalende kweekskole as predikante aan te stel kan beskou word as ‘n ware Kerk of “Volledig Kerk” nie.