Hierstaanek het die afgelope paar dae opinie gelewer op André Bartlett se onvanpasde aanslag op Dirkie van der Spuy. (Kliek op die opskrifte in die kolom aan die linkerkant van die bladsy). Die Bartlett-faksie het van der Spuy se pastorale briefie aan sy gemeente n.a.v. die AS2016 besluit oor selfdegeslag verhoudings aan die groot klok gehang. Dit is absoluut buite verband opgeblaas in die Netwerk 24 se koerante en die sosiale media.
Neels Jackson was Bartlett se gewillige handlanger en het Bartlett se brief aan die moderamen (Wat aanvanklik deur 172 mense onderteken is) in ‘n lewendige petisie op e-Kerkbode verander deur gereelde opdaterings van die hoeveelheid mense wat die brief onderteken het te pos. Die telling op hede is 654; Neels het soos ‘n opgewonde kind soms uurlikse opdaterings van die pos op e-Kerkbode gemaak.
Soos hierstaanek uitgewys het, het mense wat daarop roem dat hulle die Christelike geloof vaarwel geroep het (Julian Muller noem homself ‘n “post-teis”) en ateiste, wat deur Bartlett op Change.org gewerf is ook die brief onderteken.
Wel, die moderamen het Jackson en Bartlett goed oor die vingers getik. Hulle bevestig Ds van der Spuy se reg op vryheid van spraak en godsdiens. En dan skryf hulle:
Openbare petisies teen ’n individu is egter nie die kerklike wyse waarop ons op frustrasies behoort te reageer nie. Trouens, dit is nie die Bybelse weg om verskille te hanteer nie. Daar is ook nie ’n amptelike kerklike proses om met petisies te handel nie. Daar is wel ander bekende kerkordelike weë waarlangs mense hulle frustrasies kan kanaliseer. Hiervan is om in dialoog met mekaar te bly die mees aangewese weg.
Eina!
Soos hierstaanek die heel tyd gesê het: Om van opinie te verskil en dit duidelik in die openbaar te verkondig is een ding. Om iemand wat ‘n openbare tugwaardige sonde gepleeg het (Soos Julian Muller wat die Bybelse Godsbeeld verwerp het en steeds in die kerk aangebly het. Dis kontrakbedrog.) fel in die openbaar aan te spreek is een ding.
Om egter die moderamen met onkerkordelike petisies onder druk te plaas om ‘n lidmaat wat geen tugwaardige sonde gepleeg het nie af te dank val in ‘n totaal ander klas.
Gelukkig het die moderamen in hierdie opsig die insig gehad om dit in te sien en hulle in die openbaar daaroor uit te spreek.
Die moderamen se volledige brief is hier onder. Let op dat Dirkie van der Spuy self een van die ondertekenare is, dit verander egter glad nie aan die geldigheid van hulle opinie nie, veral in die lig van Nelis janse van Rensburg en Gustav Claassen se ondersteuning.
Ek hoop Neels Jackson is ook persoonlik aangespreek.
Hierstaanek.
Ons, die voorsitter, onder-voorsitter en algemene sekretaris van die moderamen van die Algemene Sinode, Nelis Janse van Rensburg, Dirkie van der Spuy en Gustav Claassen het vandag, 18 November 2016 ’n uitgebreide gesprek gevoer oor die selfdegeslagbesluite van die buitengewone vergadering van die Algemene Sinode.
Ons het onder meer gepraat oor:
1. die inhoud van die besluit, die belang van die besluit in die eerste plek vir heteroseksuele verhoudings, asook die betekenis daarvan vir gay gelowiges;
2. die felle reaksie van akademici, leraars, kerkraadslede en lidmate ten opsigte van die besluit van die buitengewone Algemene Sinode;
3. die groot reaksie vanuit die kerk ten opsigte van die besluite van die sinode van 2015 en die instemming wat hierdie gelowiges nou met die 2016-besluit het;
4. die wyse waarop die kerk die diversiteit van menings oor selfdegeslagverbintenisse behoort te hanteer;
5. die feit dat baie gay lidmate voel dat die besluit uitsluitend is, ten spyte daarvan dat hulle welkom is as lidmate en in al die besondere ampte van die kerk.
Ons het ook deeglik besin oor die e-pos wat ds Van der Spuy aan sy gebedsondersteuningsgroep in sy gemeente gestuur het oor die selfdegeslagbesluit van die Algemene Sinode. Ons is oortuig dat die verwysing in die e-pos na ’n besluit van Moreletapark gemeente slegs dui op sy persoonlike mening dat daar ’n gelykluidendheid is tussen die besluit van die Algemene Sinode en dié van die gemeente. Daar was ons insiens nie sprake van ’n poging tot onbehoorlike beïnvloeding van die besluit van die sinode, of ’n poging om te suggereer dat dit deur die gemeente se toedoen was dat die besluit geneem is nie. Dat hy in die geledere van gebedsvriende sy tevredenheid met die besluit uitgespreek het, is sy vrye reg. Die feit dat die Here se hand gesien is in die wyse waarop die sinode se standpunt verander is, is ewe eens ’n persoonlike waarneming waarmee ’n mens kan verskil of saamstem. Dat ’n persoon hartlik saamstem en bly is oor ’n besluit van ’n Algemene Sinode, kan ook tog nie sonder meer veroordeel word nie. Ons het ook gepraat oor die moontlikheid dat hierdie standpuntstelling impliseer dat andersdenkendes nie ernstig is oor die Bybel nie. Ons vereenselwig ons egter met die sinode se ooreenkoms dat “almal betrokke by die verskillende vertolkings erns maak met die Skrif en dat daar by almal ’n opregte begeerte is om God se wil te soek.” Hierdie ooreenkoms is in die besluit van die sinode opgeneem.
Ons verstaan dat daar baie frustrasie én dankbaarheid is wat met die besluit van die Algemene Sinode gepaard gaan. Openbare petisies teen ’n individu is egter nie die kerklike wyse waarop ons op frustrasies behoort te reageer nie. Trouens, dit is nie die Bybelse weg om verskille te hanteer nie. Daar is ook nie ’n amptelike kerklike proses om met petisies te handel nie. Daar is wel ander bekende kerkordelike weë waarlangs mense hulle frustrasies kan kanaliseer. Hiervan is om in dialoog met mekaar te bly die mees aangewese weg.
Ons is verbind om die eenheid van die kerk te dien. Eenheid staan nie teenoor waarheid nie. Dit is juis deur die eenheid te behou en binne hoorafstand van mekaar te bly, dat ons die onderskeie perspektiewe hoor en mekaar dien met insigte en wysheid om die waarheid te onderskei. Ons ken mekaar goed, is saam lief vir die Here, is saam in sy diens. Ons is saam opgewonde oor die Algemene Sinode se visie van ’n missionale kerk wat ’n bydrae lewer tot ons land. Ons wil met ons verbondenheid aan mekaar ’n voorbeeld stel van beliggaamde eenheid ten spyte van die verskille wat daar in ons denke oor sake bestaan.
Ons roep almal in die kerk op om in hierdie dae goed te dink oor die betekenis van die besluit van die Algemene Sinode. Laat almal van ons dan erns maak met die Skrif met ’n opregte begeerte om God se wil te bly soek en mekaar te vind. In ’n gereformeerde kerk bly ons immers altyd wagtend op verdere leiding van die Heilige Gees. Laat ons die eenheid van die kerk bewaar ter wille van die waarheid en laat ons só verskil dat almal sal weet dat ons deur Christus verander is tot nuwe mense.
Gustav Claassen
Dirkie van der Spuy
Nelis Janse van Rensburg
Hierstaanekook said:
Nou ja Bartlett het hom op die wêreld beroep en ek moet sê ek is ook beindruk met hoe vinnig daar deur die NG Kerk teen hom opgetree is. Soos altyd is dit God 1 en Satan 0.
americanuniverse said:
Eenheid staan nie teenoor waarheid nie?
Daar is die DNA van die dwaaling in die NGK vandag.
Alles is dan relatief, God se leer ook.
Henrietta Klaasing (@hettiepettie) said:
Die “tik” was ligggggies, baie liggies. Wat het geword van die kerklike tug, wonder ‘n mens heimlik. En dit is baie duidelik wat NW24 se sentimente is. Bartlett word hier toegelaat om sy bors skoon te maak… ek wag in spanning op die Geelpers van more.
http://www.netwerk24.com/Nuus/Algemeen/ng-kerk-se-leierskap-steun-ds-dirkie-20161119
hierstaanek said:
Die interessante ding is dat NW 24 enigsins gedink het ds vd Spuy se brief is nuuswaardig.
Hulle sal absoluut ENIGIETS gebruik om hulle narratief te dryf. Maak my so half naar.
R Buurman said:
Dit is waarom ek my subskripsie by NW24 gestop het. Eerder geen Afrikaanse pers as een wat teen God se koninkryk in veg
Bart Vosloo said:
Baie te vrede dat ons moderamen nou die egtheid en waarheid wat in die Bybel staan, erken en onderskryf, al moes sommiges n ommeswaai maak.
hierstaanek said:
Bart, ek glo werklik nie dit is die geval nie.
Daar is geen verwysing na die feit dat homoseks sonde is nie.
Daar is geen oproep van sondaars tot bekering en heiligheid nie.
Daar is geen sondebelydenis oor die ongelooflike godslastering van die AS2015 besluite nie.
Nelis het in Rapport verklaar elke gemeente kan maak soos hy wil. Die AS2016 besluite is nie die papier werd wasrop dit gedruk is nie.
Die probleem is: Behoudende predikante wil só graag hê die Kaap moet weer Hollands wees fat hulle hulleself wys maak dat dit is.
Die probleem is, ons is kerkregtelik steeds by AS2015. Niks het verander nie. Die moderator het nie tot ander insig gekom nie.
AS 2016 is rook en spieels.
Hierstaanekook said:
Ds Danie Mouton (Oos-Kaap Sinode en teenwoordig by BAS 2016) Maak die opmerking op sy Facebook-blad op 10 Nov om 10:47 nm
( https://www.facebook.com/danie.mouton?fref=ts )
” Die besluit is ‘n sameflansing van ‘n deel van die Noord-Kaap sinode se beswaarskrif en ‘n reeks amendemente. Van die amendemente is aanvaar, ander verwerp, en soms het die oorspronklike teks uit die beswaarskrif die paal gehaal. Die tande van die amendemente is getrek, daar was tydsdruk, en die uiteindelike besluit is nooit in samehang beskou nie. Oksimoron is waarskynlik ‘n relatief sagte beskrywing van die produk. “
Liza Hartmann said:
Nee ds Mouton ‘oksimoron’ is ‘n raak beskrywing van die chaos en besluiteloosheid wat daar deesdae onder die top hierargie van die NGK heers!
Alex said:
Dit is tyd dat sinodegangers by die volgende sittings die dwaalleraars onder tug plaas en hulle vra om te bedank uit hulle poste , miskien skenk die Here sommige van hulle dan berou en lei hul tot bekering. Maar hoeveel het daardie onderskeiding?
Anoniem. said:
Alex jy is so reg, maar volgens my wete het hulle al lankal voorsiening gemaak om nie op hierdie wyse verwyder te kan word deur die tug af te stel!
Dus is daar geen vrees om voort te gaan met vele dwalinge wat alreeds in die algehele kerk sy stans gekry het.
Nelis Jansen van Rensburg en sy medeleraar Heerden van Niekerk gesamelik op RSG radio oor “die Wetenskap” en die “bevryding van die vrou” (in die Ampte) asook die bevryding van Gays! Daar sal n intense soeke en radikale verandering moet plaasvind om alles “skoon te maak” wat nie ooreenstem met God se wil.
Slegs een gemeente in Namibia,volgens my wete,het die regte ding gedoen deur eenkant toe te staan en hul te distansieer todat dit duidelik is watter pad die kerk sal neem!
Waarom ek dit noem is as die tug wel verwyder is en die Evangeliese gemeentes se hande so gebind is om van die dwaalleraars ontslae te raak. IS HIERDIE MOS DIE SKRIFTUURLIKE WEG OM TE GAAN! In my menslikheid salueer ek hierdie gemeente! Uit Sy Woord “Gaan weg onder hulle………………………..”!
Op my stelling dat die vrou in die amp ook n dwaling is wil ek voorstel dat die kerk kyk na n indiepte ondersoek van David Pawson se boek “Male is Leadership”.
Dit is tyd dat daar na die breer foute (dwalinge) gekyk word en nie soos dwase net te fokus op een verkeerde! Die algehele kerk sal die hand van waarheid diep in eie boesem moet steek!
Hoeveel skade word aangerig in hierdie tydperk van n gesukkel en n gespartel? Asook siele wat mislei en verlore gaan?
Menige lidmate word letterlik beroof van n geestelike tuiste deurdat hulle nie hul weg oopsien om onder hierdie leierskap en die valse boodskap wat uitgestuur word “so dikwels as moontlik Sy huis te besoek”?. Hoe aandadig is ons nie aan selfs hieraan nie?
My voorstel aan Evangeliese leiers en kerke in om hul gemeentes op n bepaalde datum gesamentlik te lei in verootmoediging asook om God te vra dat Hy in Sy Almag Sy Heilige Gees sal uitstort oor ons sodat herlewing oor alle grense sal intree.
Dat Hy WEER SY REGMATIGE PLEK IN ONS HARTE EN GEBROKE LAND SAL KRY ook ons Parlement en skole.
Slegs dan sal Hy Hom ontferm- Ons fokus op die mens en nie op God meer!
hierstaanek said:
Jy is reg in alle opsigte, anoniem.
Die kerklike tug us onmoontlik. Julian Müller en Ben du Toit, wie beide die mees basiese konsepte van ons geloof verwerp het skotvry gekom, omdat die ondersoekliggame self dwaal.
Bart Vosloo said:
Die kerk is vas geverf in n hoek wat kerlike tug aan betref. Een eenvoudige voorbeeld, kyk bietjie hoeveel ouderlinge en diakens is dienende terwyl hulle met iemand saam woon. Miskien is daar baie argumente wat saam woon kan goed praat, maar dit is maar die klein dingetjies wat later te veel probleme skep en kan tug nie toegepas word nie.
Hierstaanekook said:
Watter deel van die Dirkie se Vrye Reg verstaan Jackson nou nie? Die man voel homself nog steeds verplig om petisietelling te hou. Dalk moet iemand net een of ander tyd vir hom sinvolle werk gee. Maar nou ja die Sinode het nie meer die vermoë om iets sinvol uit te dink nie. Ek wonder hoe die AS nou eendag as x hoeveelheid gemeentes AS2015, y gemeentes AS2016 en z gemeentes dalk AS2011 onder leiding van die Heilige Gees aanhang dit sal verduidelik in terme van die Heilige Gees se werking.
Christiaan said:
Dirkie is ‘n Príns in die NG Kerk. Hy is evangelies en daar is min wat sy gelyke is!
Christiaan said:
Met alles wat jy skryf, goed (en ook soms minder goed), verstaan jy nog nie. Jy staan te naby aan die probleem self. Jy stel belang in die waarheid – jy sal dit seker nie post nie maar hiér is die waarheid:
Die probleem is die NG kerk sélf. Hoekom moet ons álewig lees van die NG kerk in die Beeld, Burger en Rapport? Die meeste Afrikaners is lánkal nie meer in die NG kerk nie(!) – kyk na die statistiek op Google: South Africa. Die Pinster/charismatiese kerke is 8.2%, en die NG kerk 6.7%. Tot die Katolieke kerk is groter as die NG Kerk! Dit is natuurlik oor Naspers. Die Afrikaner van vandag moet die houvas en wurggreep van Naspers van hom eens en vir altyd van hom afskud!
Die NG kerk is írrelevant vandag, en loop oral dood. Hulle was nog nooit ‘n ware kerk in my oë nie. Hulle is nié Bybels-behoudend of evangelies nie, en was ook nooit regtig nie. Die Gereformeerde kerke is tydens apartheid deur deur die Wêreld Gereformeerde Bond as die grootste ketterkerke op aarde bestempel! Calvyn was ‘n absolute kétter, en ‘n moordenaar, maar lidmate weet dit glad nie. Hy het gesê dat baie mense reeds by hulle geboorte verdoem is tot die hel, omdat hulle nie uitverkies is nie. Hy het ook meer as 50 mense in Geneva laat doodmaak, meeste op die brandstapel. Hy was totale ‘n monster! Hy was ‘n wetsgeleerde en het nie eers ‘n teologiese kwalifikasie gehed nie – hy was ‘n leek! Tog word hy steeds blindelings deur gereformeerders gevolg. Die probleem is Calvinisme sélf. Die Afrikaner moet die juk van die NG kerk en sy dominees, en ook sy baie demonies van hulle áfskut! Baie van hulle leraars is die Fariseërs van vandag, met hulle groot geleerdheid en sosiale aansien – hier en daar ‘n goeie een, soos Dirkie. Hulle kry lekker vet markverwante salarisse, bly in luukse pastorieë, tewyl hulle nié werklik bekering preek nie, nie Bybels doop nie (Johan Heyns het dit erken), nie bid vir die vervulling van die Heilige Gees nie, nie regtig weet wat om met die Nagmaal te doen nie – en nie meer regtig in die Bybel as Heilige Skrif glo nie, behalwe dalk die Doppers. Hier staan ék! Post dit dit ander kan saam praat.
hierstaanek said:
Christiaan
“Calvinisme”is die beste opsomming van wat die Bybel leer buite die Bybel. En die verbondsdoop is die Bybelse doop, en die doop van die kerk van Handelinge.
Calvyn was nie sondeloos nie. Hy het nie 50 mense laat verbrand nie. Die stadsraad van Geneve het een mens laat verbrand – Servetus. Calvyn het nie die doodsvonnis geteken nie, die siviele regering het. Ek beweer nie Calvyn was nie betrokke nie, hy was, maar jy is duidelik erg oningelig oor die geskiedenis en die geskiedkundige konteks. Ongelukkig is daar oningeligde misleiers soos Jacob Prasch vandag wat die feëverhale verkondig…
Ons is nie volgelinge van Calvyn nie. Ons glo nie in die onfeilbaarheid en sondeloosheid van Calvyn nie. Maar Calvyn was ‘n briljante eksegeet, ‘n sondaar wat die ongelooflike krag van God se vrye genade aan sy eie lyf ervaar het, en elke dag, ten spyte van sy sonde en foute, uit daardie genade geleef het. God het hom gebruik vir een van die grootste geestelike herlewings in die geskiedenis van die mensdom. ‘n Herlewing wat die eers Europa en toe die wêreld geestelik, maatskaplik, wetenskalik, tegnologies en polities verander het, dat die invloed daarvan nou nog gesien word in die wêreld wat ons vandag het.
Ons is volgelinge van Jesus. Ons glo die Bybel. Maar soos ek sê “Calvinisme” is die suiwerste sistematiese opsomming van die Bybel buite die Bybel self.
Hierdie blog se uitsluitlike doel is om die NG Kerk terug te roep na die Gerformeerde belydenis, of dan “Calvinisme”.
Ek wil jou uitnooi om John Piper se boekie “Five Points” te google en af te laai. Dit is verniet.
Laurens le Roux said:
My aandag word in beslag geneem deur 1 Kor. 6:10 [AOV] en Rom. 7:14-26 [AOV].
1 Kor. 6:10 [AOV]
Moenie dwaal nie! Geen hoereerders of afgodedienaars of egbrekers of wellustelinge of sodomiete of diewe of gierigaards of dronkaards of kwaadsprekers of rowers sal die koninkryk van God beërwe nie.
Rom. 7:14-26 AOV]
14 Want ons weet dat die wet geestelik is, maar ek is vleeslik, verkoop onder die sonde.
15 Want wat ek doen, weet ek nie; want wat ek wil, dit doen ek nie, maar wat ek haat, dit doen ek.
16 En as ek doen wat ek nie wil nie, dan stem ek die wet toe dat dit goed is.
17 Maar nou is dit nie meer ek wat dit doen nie, maar die sonde wat in my woon.
18 Want ek weet dat in my, dit wil sê in my vlees, niks goeds woon nie; want om te wil, is by my aanwesig, maar om goed te doen, dit vind ek nie.
19 Want die goeie wat ek wil, doen ek nie, maar die kwaad wat ek nie wil nie, dit doen ek.
20 Maar as ek doen wat ek nie wil nie, dan doen ek dit nie meer nie, maar die sonde wat in my woon.
21 Ek vind dus hierdie wet: as ek die goeie wil doen, is die kwaad by my aanwesig.
22 Want ek verlustig my in die wet van God na die innerlike mens;
23 maar ek sien ‘n ander wet in my lede wat stryd voer teen die wet van my gemoed en my gevange neem onder die wet van die sonde wat in my lede is.
24 Ek, ellendige mens! Wie sal my verlos van die liggaam van hierdie dood?
25 Ek dank God deur Jesus Christus, onse Here! (7:26) So dien ek self dan wel met die gemoed die wet van God, maar met die vlees die wet van die sonde. [my aksentuering-teks is gruwelik in die Bybel van 1983 gekorrupteer]
Alle sondes is vleesgedrewe en dit beteken dat bloot vanweë die feit dat ek vlees is, is ek vol sonde en skuldig. Dit beteken dan dat alle vlees in God se oë verwerplik en vir die hel bestem is. Niks van wat ek doen of nie doen nie kan die vlees en sy inherente sondigheid in God se oë verander nie. In God se oë is alle vlees geoormerk vir die Hel. Eers as opregte en wedergebore gelowige word hierdie verwerplikheid vir God se oë bedek. [Hierdie laasgenoemde Bybelse waarheid is ook in die 1983 Bybelvertaling wegvertaal]
Die Leer oor die erfsonde moet met hierdie onderwerp saam bedink word.
Dit alles beteken verder dat verskillende sondes wat ALLE mense in een of ander vorm en een of ander tyd doen, bloot ñ manifestasie van die sondige vlees is. As jy vlees is, is jy skuldig. Die sonde lê by wyse van spreke in jou gene. Dit gaan nie daaroor of jy sonde gedoen het of nie- jy is sonde. Sondelose vlees kan eenvoudig net nie bestaan nie. Eers as opregte geloof intree word hierdie aaklige toestand opgehef. Daar is dus net een uitkoms vir die mens en dit is om die reddingsboei van God se genade, bewerkstellig deur Jesus Christus se verlossingsdaad, vas te gryp. Hierdie gedagte moet die begin en einde van alle prediking wees.
Ons stry nou so met mekaar of gaywees sonde is of nie. Natuurlik is dit, maar in die lig van
1 Kor. 6:10 is so ook die alledaagse rondslapery, egbreuk, aborsie, pornografie, goed te vat wat nie regtig joune is nie, té veel drank te gebruik, van jou eie ek die eie intellek en die wetenskap ñ afgod te maak, skinder, belastingontduiking ens. Dit is alles aan die orde van die dag en geen woord word daaroor gerep nie. Dit is mos huigelary.
In al hierdie nuttelose gestry mis ons die punt: Omdat jy vlees is gaan jy Hel toe tensy jy die groot Genadeaanbod van God naamlik die aanvaarding en geloof in Jesus Christus se verlossingsdaad reikhalsend omarm.
Interressant om daarop te let dat hierdie diepgaande waarheid in die Nuwe Bybelvertaling van 1983 wegvertaal is. Sien onderstaande dan ook saam met Rom. 7:14-26 hierbo.
Rom. 8:3
(ANV) Wat die wet nie by magte was om te doen nie, omdat dit weens ons sondige natuur te swak was, dit het God gedoen. Hy het met die sonde afgereken deur sy eie Seun in dieselfde gestalte as die sondige mens te stuur; so het Hy die sonde in die sondige bestaan van die mens veroordeel.
(AOV) Want God het wat vir die wet onmoontlik was, omdat dit kragteloos was deur die vlees deur sy eie Seun in die gelykheid van die sondige vlees te stuur, en dit ter wille van die sonde, die sonde veroordeel in die vlees,
Verder vind ons dat in die Ou Afrikaanse Bybelvertaling [1933/53] die woordjie “vlees” 271 keer genoem word terwyl in die Nuwe Afrikaanse Bybelvertaling[1983] dit net 6 keer genoem word. Dat hierdie woordjie wat soveel bydra tot die beter verstaan van die mens se sondigheid en verlorenheid en God se siening daaroor en veral Sy PLAN daarmee, dat hierdie woordjie wegvertaal word dui op kwaadwilligheid. As verder, as voorbeeld, in gedagte gehou word dat hierdie moderne Bybels ook die Messiaanse profesieë wegvertaal het, die woordjie “siel” van die mens feitlik wegvertaal het, dat God die gelowige se sondes vir Sy oë bedek het, wegvertaal het, dat God se opdrag dat Sy Woord wat Hy belowe het Hy ewig instand sal hou deur ons bewaar moet word wegvertaal is, dan is dit nie meer net kwaadwilligheid nie maar satanies. Dat die moderne Bybels sy ontstaan het uit die lyn van Alexandriese geskrifte getuig daarvan. Hierdie vals Bybels moet in die vuur gegooi word!!
Hoe lank gaan God nog duld dat daar so met Hom en Sy Woord gespot word? Het ons iets te lees in die huidige natuurverskynsels? Ek dink beslis so!