Die agenda van die Algemene Sinode van 2013 is onlangs bekend gemaak, en daarmee saam ‘n voorstel om Belhar in die kerkorde op te neem deur ‘n wysiging van Artikel 1 van die Kerkorde.

Die 2007 weergawe van die kerkorde se Artikel 1 lui:

Artikel 1
Die Nederduitse Gereformeerde Kerk staan gegrond op die Bybel as die heilige  en onfeilbare Woord van God. Die leer wat die Kerk in ooreenstemming met die Woord van God bely, staan uitgedruk in die Formuliere van Eenheid soos vasgestel op die Sinode van Dordrecht in 1618-1619, naamlik die sewe en dertig artikels van die Nederlandse Geloofsbelydenis, die Heidelbergse Kategismus en die vyf Dordtse Leerreëls.

Die belangrike punt om hier op te let is: ” Die leer wat die Kerk in ooreenstemming met die Woord van God bely, staan uitgedruk in die Formuliere van Eenheid…”  Hierdie is ‘n uitdrukking van die sogenaamde “Quia” siening van die belydenisskrifte.  ” Quia” is bloot die Latynse woord vir “omdat”, en hier beteken dit, “Ons onderskryf die belydenisskrifte OMDAT dit ooreenstem met die woord van God.”

Hierdie het geweldige implikasies vir kerkwees.

Eerstens: Indien ons die belydenisskrifte onderskryf OMDAT dit ooreenstem met die Woord van God …

  • Verklaar ons by implikasie dat daar geen konflik tussen die belydenisskrifte en die Woord van God is nie.
  • Ons verklaar by implikasie dat die belydenisskrifte ‘n ware voorstelling van God se werklikheid is.
  • Ons verklaar by implikasie dat die belydenisskrifte nie opsioneel is nie maar essensieel, omdat dit ‘n ware voorstelling van God se werklikheid is.

Tweedens: Omdat ons verklaar dat ons belydenisskrifte ooreenstem met die Woord van God bely ons teenoor die wêreld

  • Dat God bestaan
  • Dat God Homself openbaar het aan die mens
  • Dat hierdie selfopenbaring van God verstaanbaar is
  • En dat God se selfopenbaring aan die mens die verantwoordelikheid op die mens lê om daarop te antwoord.

Die belydenisskrifte as getuienis teen die wêreld vorm dus ‘n grens tussen ons en die wêreld. En omdat dit ‘n grens vorm is dit ‘n kragtige uitnodiging aan die wêreld om oor die grens te tree en deel te word van die Liggaam van Christus. (As daar nie ‘n grens is wat “ons” definieer nie, hoe kan ons dan iemand uitnooi om by “ons” aan te sluit?)

En derdens: Aangesien ons belydenis verskil van dié van ander kerke, (Bv die AGS) vestig dit ons kerk se identiteit: Dit is wat ONS glo, en dit is die rede waarom ons nieaan  bv. die AGS behoort nie. Die belydenisskrifte is dus nie net ‘n getuienis teen die wêreld nie maar ook ‘n getuienis aan ons broers en susters in Christus wat die Bybel anders interpreteer as ons. Dit is dus ‘n oproep aan ander kerke in Christus se liggaam om die Bybel korrek te interpreteer.

Maar sê nou net ons verklaar dat geloof in ‘n belydenisskrif opsioneel is? 

As ek verklaar dat ‘n belydenisskrif ooreenstem met die Bybel weerspreek ek myself as ek dan ook verklaar dat dit opsioneel is. Dit kan nooit opsioneel wees om die Bybel te glo nie. 

Die ASM beveel aan dat die kerkorde soos volg op die volgende Algemene Sinode verander word:

KERKORDE ARTIKEL 1

1. Die Nederduitse Geformeerde Kerk is gegrond op die Bybel as die heilige en onfeilbare Woord van God.

2. Die leer wat die Kerk in ooreenstemming met die Woord van God bely, word verwoord in die belydenisskrifte wat deur kerkvergaderinge, ampsdraers en lidmate onderskryf word.

3. Die Kerk bely:

3.1 in verbondenheid met die vroeë kerk die ekumeniese belydenisse, naamlik die Apostoliese Geloofsbelydenis, die Geloofbelydenis van Nicea en die Geloofsbelydenis van Athanatius;

3.2 in verbondenheid met die kerk van die reformasie die drie Formuliere van Eenheid, naamlik die Heidelbergse Kategismus, die Nederlandse Geloofbelydenis en die Dordtse Leerreëls;

3.3 in verbondenheid met die kerk in die Suider-Afrikaanse konteks die Belydenis van Belhar.

4. Die Kerk aanvaar dat die onderskrywing van bykomende belydenisse naas die ekumeniese belydenissse en die drie Formuliere van Eenheid sonder dwang geskied.

5. Die Kerk aanvaar dat die taak van belydenisvorming nie afgehandel is nie en dat ‘n beter verstaan van die Woord van God kan lei tot wysiginge aan die belydenisgrondslag van die Kerk.

Voordat ons verder gaan, kom ons kyk eers na Artikel 44 van die huidige kerkorde

Artikel 44
44.1 Die wysiging van die Belydenis kan alleen geskied nadat elke sinode afsonderlik met ’n tweederdemeerderheid én twee derdes van alle kerkrade elk met ’n tweederdemeerderheid ten gunste daarvan besluit het.

44.2 Artikel 44.1 en 44.2 word gewysig nadat elke sinode afsonderlik met ’n tweederdemeerderheidstem ten gunste daarvan besluit het en die Algemene Sinode daarna met ’n tweederdemeerderheidstem ten gunste daarvan besluit.

44.3 Die Algemene Sinode mag, met uitsondering van Artikel 44.1 en 44.2, die Kerkorde wysig of aanvul met ’n tweederdemeerderheidstem.

Reg, hier is wat aangaan:

Die NG Kerk leierskap is desperaat op Belhar as belydenisskrif te aanvaar.

Hulle kan dit nog nie doen nie omdat twee derdes van alle kerkrade dit nog nie aanvaar het nie en al die sinodes dit nog nie aanvaar het nie. En onthou ‘n sinode kan dit slegs amptelik aanvaar as twee derdes van alle kerkrade in daardie sinode dit aanvaar het.

So hier is die oplossing wat hulle uitgedink het: Aanvaar Belhar maar dwing dit nie af nie. Op die manier kan jy beweer dat jy nie die “belydenis gewysig” het soos in Artikel 44 beskryf nie.

Die volgende gevaarligte gaan onmiddelik aan:

  • Ten spyte van die feit dat die nuwe belydenisskrif nie afgedwing word nie verteenwoordig dit steeds ‘n verandering van die belydenis. Dit is dus in elk geval onwettig. (Edit 25/08/2013: Dit blyk dat ek die proses verkeerd verstaan het. 2013 se AS moet ‘n agendapunt opstel waaroor 2015 se AS sal moet stem. Hierdie stelling van my dat dit onwettig is is dus nie korrek nie.)
  • MAAR BAIE BELANGRIKER: Dit vestig die beginsel dat ‘n belydenisskrif wat deur die kerk aanvaar word nie afdwingbaar is nie en vernietig dus die Quia beginsel.

As die kerkorde toelaat dat lidmate van die kerk die belydenisskrifte van die kerk na willekeur kan aanvaar of verwerp vernietig dit die belydenisgrondslag van die kerk.

Net een laaste punt: Artikel 44 van die Kerkorde bepaal reeds dat die belydenis van die kerk verander mag word. Waarom is punt 5 van die voorgestelde nuwe Artikel 1 dan nodig? 

Ek vra maar net…

NASKRIF

Stem Belhar ooreen met die Woord van God?

http://hierstaanek.com/2013/06/22/belhar-is-god-op-n-besonderse-wyse-die-god-van-armes-wat-goddeloos-is/

http://hierstaanek.com/2013/02/16/belhar-weerspreek-die-drie-formuliere-van-eenheid/

http://www.rca.org/page.aspx?pid=6245